Die studente is terug vir die nuwe akademiese jaar en probleme met studentehuise in Universitas en ander woonbuurte in die omgewing van die universiteite bly toeneem.
Op ’n vergadering van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), sektor 3, wat op Woensdag 9 Maart by die NG kerk Gardeniapark gehou is, was rusverstoring by studentehuise die belangrikste onderwerp van bespreking.
André Grobler, voorsitter van sektor 3, wat Universitas-rif, Gardeniapark, Parkwes en Wilgehof insluit, sê dit is belangrik dat inwoners gevalle van rusverstoring by die polisie en die Mangaung-metro aanmeld sodat gevalle ondersoek en die skuldiges aangespreek kan word.
Herman Lombard van National Crime Assist (NCA) sê een van die kommerwekkende kwessies is partytjies waarvoor kaartjies op die internet en die sosiale media verkoop word wat deur honderde studente by huise bygewoon word.
DA-raadslid Tjaart van der Walt sê egter waar gemeenskapsgroepe van sulke partytjies bewus word, word dit meestal met die hulp van die polisie gestop.
Hy sê daar is meer as 500 studentewonings.
Die Universiteit van die Vrystaat (UV) het wel voor die uitbreking van Covid-19 sowat 250 studentehuise geakkrediteer waar onder meer UV-studente wat beurse van die Nasionale Studentehulpskema (NSFAS) kry, woon.
Dié huise moet egter ook by die Mangaung-metro geregistreer en gehersoneer word.
Van der Walt sê sowat 95% van studentehuise is onwettig wat munisipale regulasies betref.
Hy sê wat ook kommerwekkend is, is dat sowat 26 studentehuise die Mangaung-metro altesaam ongeveer R4 miljoen vir dienste skuld.
“Van die studentehuise behoort ook aan mense met politieke verbintenisse wat duisende rande daaruit maak.”
Hy sê dit is belangrik dat die huise aan munisipale regulasies voldoen wat betref gesondheid en brandgevaar, om dit vir inwoners veilig te maak.
“Dikwels word inspekteurs nie eens by die huise ingelaat nie.”
Van der Walt sê dit is noodsaaklik dat mense nie net by raadslede en op groepe kla nie, maar amptelike klagte oor probleme rig sodat dit op skrif is.
Grobler sê mense wat die polisie met ’n klagte van rusverstoring bel, moet altyd die naam en rang van die polisielid waarmee hulle praat, vra en aanteken. Kry ook ’n verwysingsnommer by die polisie.
“Indien ’n polisievoertuig nie opdaag nie, bel en vra na die offisier in bevel. Rusverstoring kan 24 uur van die dag aangemeld word en is nie beperk tot laataand nie. Die persoon verantwoordelik vir die rusverstoring kan ’n boete opgelê word of gedagvaar word om in die hof te verskyn.”
Klagtes oor rusverstoring kan by die Mangaung-metro by 051-406-6452 of 051-405-8771 gerapporteer word, en by die Parkweg-polisiekantoor by 082-466-7490. Klagtes met volledige besonderhede oor die tyd en die adres moet ook per e-pos gestuur word aan Riaan Nel by riaan.nel@mangaung.co.za.