Die 31ste messkou van die Bloemfonteinse Mesmakersklub word op 3 en 4 November by Bobbiespark aangebied.
Tiaan Groenewald, voorsitter van die klub, sê die skou word elke jaar groter.
“Ons klub het aanvanklik gefokus op plaaslike mesmakers, maar nou neem mesmakers van oor die land heen aan die skou deel,” sê hy.
Vanjaar sal 54 mesmakers hul messe vertoon en op die skou verkoop.
“Mesmaak is ’n funksionele kunsvorm,” sê Groenewald.
“Jy moet oor die regte toerusting beskik en kunstig wees, maar die belangrikste is dat jy moet weet hoe om goeie messe te maak.”
Hy sê die plaaslike klub se doelwit is om die stokperdjie te bevorder en om beginner-mesmakers met kennis te bemagtig om beter messe te maak.
“Deur TV-programe soosForged in fire het die maak van messe baie gewild geword, maar dit skep dikwels ’n kits-indruk wat ’n mens laat vergeet daar word baie werk ingesit om ’n goeie mes te maak,” sê hy.
Benewens die skou, word ’n groot kompetisie aangebied waarin messe in een van tien afdelings ingeskryf kan word vir beoordeling.
Die beste messe word die Vrydag aangewys en besoekers sal tussen 16:00 en 20:00 na die wen-messe kan kyk.
Die skou duur die Saterdag van 08:00 tot 15:00.
Toegangskaartjies kos R30. Kinders jonger as 14 jaar kry gratis toegang.
Vir elke toegangskaartjie wat verkoop word, kry skougangers een inskrywing in ’n trekking om ’n pragtige mes, gemaak deur Jan Verster, te wen.
Ekstra kaartjies teen R20 elk kan ook gekoop word om ’n beter kans in die trekking te staan.
Die wenner word die Saterdag om 14:30 bepaal.
Benewens die messe wat uitgestal en te koop sal wees, is daar ook leerwerk en verskaffers van toerusting en materiale.
- Een leser staan die kans om twee toegangskaartjies vir die Bloemfontein-messkou te wen. Besoek Bloemnuus se Facebook-blad om vir die kompetisie in te skryf.