Een van die agt bushaltes op die roete van Hoffmanplein na die Universiteit van die Vrystaat (UV), waarvoor die kontrak van R4,6 miljoen toegeken is. Volgens die kontrakteur is daar ander werk wat ook hierby ingesluit was.Foto: Verskaf


’n Kuberaanval op die Mangaung-metro in Oktober en die verval van die kontrak om watermeterlesings te neem, is glo waarom sommige inwoners van die metro in Januarie “onbekostigbaar hoë” waterrekeninge gekry het.

Watermeterlesings is weens dié probleme geskat. Noudat lesings weer in Januarie geneem is, is daar moontlik vir sommige inwoners regstellings omdat hul lesings die afgelope maande te laag geskat is, sê Qondile Khedama, woordvoerder van die metro.

Dirk Kotzé, DA-raadslid van die metro, sê sommige inwoners se lesings is ses maande lank geskat nadat die kontrak met die vorige diensverskaffer wat watermeterlesings gedoen het, teen die einde van Augustus verlede jaar geëindig het.

Inwoners het hierna kennisgewings gekry waarin hulle gevra is om self die meterlesings te doen en dit aan die metro te e-pos.

Talle inwoners se data kon egter nie in die stelsel gevoer word nie weens die kuberaanval in Oktober op die metro, toe die stelsel geruime tyd vir ’n losprys gekaap is, sê Kotzé.

Van die inwoners sê volgens die metro is lesings op 1 Januarie geneem, maar hul kringtelevisie-beeldmateriaal wys nie dat dit op daardie dag gedoen is nie.

Mchiliteni Fofota Investments is in Desember aangestel as die nuwe kontrakteur om die meters te lees.

Agape Maluka, die enigste direkteur van die maatskappy, het by navraag aan Volksblad gesê 1 Januarie is ’n vakansiedag en sy werknemers het lesings op 2 of 3 Januarie gedoen.

“Hulle gaan werklik uit om die watermeters te lees en dit word nie geskat nie. My maatskappy het werkers wat in die Bram Fischer-gebou (die hoofkantoor van die Mangaung-metro) en van die munisipaliteit se geboue in Thaba Nchu en Botshabelo werk.”

Sy maatskappy het niks te doen met die vorige ses maande se rekeninge nie, sê hy. As dié meterlesings geskat is, moet die metro hieroor gekontak word.

Kotzé sê in ’n verklaring talle inwoners kla ook dat hulle reeds die afgelope drie jaar aansoek doen vir voorafbetaalde watermeters, maar dit nie kry nie. Dit is volgens hom omdat die metro nie ’n kontrakteur hiervoor aanstel nie weens volgehoue dispute tussen ’n spesifieke kontrakteur en die metro-bestuur.

Voorafbetaalde watermeters is beskikbaar en aansoekers mag vra dat dit teen ’n tarief geïnstalleer word, sê Khedama.

Die ANC-raadslid Qondile Peter, sweep van die art. 80-komitee in die metroraad (’n komitee wat die uitvoerende gesag in ’n munisipaliteit bystaan), het volgens Kotzé op die raadsvergadering einde Januarie erken dat daar steeds probleme met die metro se faktuurstelsel is.

Mchiliteni Fofota Investments is aangestel teen ’n koste van R13,50 per meter wat gelees word, met ’n beskikbare begroting van bykans R4,3 miljoen tot 30 Junie 2026, sê Kotzé.

“Die DA is bekommerd dat die aangestelde kontrakteur in 2018 geregistreer is en dat die enigste direkteur, Phulusho Agape Maluka, net 27 jaar oud is,” sê Kotzé in sy verklaring.

Die onderneming is geregis­treer by Bloemside 4860, Fase 2, Heidedal. Dit is net ’n gebied, met geen straatnaam wat genoem word nie, sê Kotzé.

Mchiliteni Fofota Investments het voorheen ook ’n kontrak van die metro gekry om Hauweng-busskuilings op die roete van Hoffmanplein na die Universiteit van die Vrystaat op te rig. Die DA kon net agt busskuilings op dié roete kry, teen ’n kontrakkoste van net meer as R4,6 miljoen.

Maluka sê by navraag agt busskuilings is inderdaad opgerig en die werk is ’n jaar gelede afgehandel. Die kontrak het benewens die busskuilings ’n “klomp ander werk behels”, maar hy het nie daarop uitgewei nie.

Kotzé sê die kontrak vir die busskuilings is aan Mchiliteni Fofota Investments toegeken terwyl die maatskappy, luidens dokumente wat hy onder oë gehad het, byna as maatskappy gederegistreer is weens nie-voldoening aan sy jaarlikse belastingverpligtinge.

You need to be Logged In to leave a comment.