In ‘n positiewe stap tot skuldinvordering om die Mangaung-metro se geldsake te verbeter, kom talle inwoners oor Bloemfontein heen skielik agter dat hul watertoevoer onderbreek word om hulle te dwing om hul skuld te vereffen.
Die metro het tot dié stap oorgegaan om mense wie se munisipale rekeninge nie opbetaal is nie voor stok te kry.
Christian Lombard van die VF Plus sê dit is belangrik dat mense kennis neem dat die ontkoppeling van water nie net na aanleiding van agterstallige waterrekeninge gedoen word nie, maar vir alle agterstallige munisipale skuld, insluitend erfbelasting.
“Dit is ‘n baie goeie stap om die metro se inkomste te verbeter, maar dit lei tot baie frustrasies onder die publiek,” sê Lombard.
Hy sê die metro het hiermee begin in onder meer Bayswater, Fichardtpark en Langenhovenpark. Inwoners van dié woonbuurte wie se rekeninge nie opbetaal is nie, het die afgelope tyd met ‘n skok aftergekom dat hul watertoevoer onderbreek is.
“Inwoners met voorafbetaalde water is nie gevrywaar nie,” waarsku hy.
Lombard sê ook in die proses is daar mense wie se toevoer verkeerdelik onderbreek word.
Rudi Maartens, DA-wyksraadslid, sê in ‘n verklaring inwoners van Mangaung kry dikwels geskatte rekeninge.Diegene wat voortgaan om geskatte rekeninge te betaal, kry ‘n groot skok wanneer die watermeter wel gelees word.
Lombard sê nog ‘n groot uitdaging is inwoners wat geen rekeninge ontvang nie en dan ophou betaal, of net betaal wat hulle dink reg is. Dit gebeur onder meer omdat mense al die jare munisipale rekening per pos gekry het en dit nie meer kry nie.
“Inwoners moet met die metro reël om hul rekeninge per e-pos te kry sodat hulle op die hoogte kan bly van hul uitstaande rekeninge.”
Hy sê raadslede word oorval met klagtes van inwoners wie se watertoevoer onderbreek word.
“Op die lys van inwoners wat hierdeur geraak word, is sowat 200 van Fichardtpark alleen.”
Jan-Hendrik Cronje, DA wyksraadslid van die wyk waarin Langenhovenpark val, sê raadslede wil die metro en inwoners graag bystaan.
“Die probleem is dat die inwoners geen kennisgewing kry nie. Hul water word net ontkoppel. As ons as wyksraadslede lyste van die inwoners kry, kan ons saam werk om die beste uitkoms te verseker.”
Raadslede raai inwoners wie se rekeninge nie
opbetaal is nie aan om met die metro in verbinding te tree, die metro se webblad te besoek of ‘n draai by die kantoor in die Bram Fischer-gebou (Glaspaleis) te maak. Die metro bied ook nou ‘n insentief en ‘n afbetalingsplan om inwoners te help om hul agterstallige skuld te vereffen.
DA-raadslid Dirk Kotzé sê die insentief is tot einde Junie verleg om almal ‘n
geleentheid te gee om van die plan gebruik te maak.
“Inwoners moet hul rekeninge na die munisipale kantoor neem, waarna ‘n ooreenkoms met die metro aangegaan word.”
Kotzé sê dit sluit in dat korting van 50% op die uitstande bedrag gegee word.
Die ooreenkoms kan insluit dat die inwoner ‘n deposito betaal, met ‘n
afbetalingsooreenkoms op die agterstallige skuld.
“Dit is op voorbehoud dat die inwoner se water en elektrisiteitbetalingsopbetaal bly,” verduidelik hy.
■ Sien ook die lesersbrief hier.
Skryf ‘n brief vir Bloemnuus deur op hierdie skakel te kliek: Skryf