Inwoners van Bloemfontein dink verniet hul probleme is op ’n einde sodra herstelwerk aan elektriese kabels of waterpype gedoen is.
Die gate wat soms maande lank in sypaadjies bly lê, noop die DA in die Mangaung-metro nou om ’n klag by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie te lê.
Dirk Kotzé, DA-raadslid, sê inwoners sit met die oorblyfsels van infrastruktuur wat herstel is en gate wat dan nie weer opgevul word nie.
Op die hoek van Stalsweg en Kommandostraat in Wilgehof is ’n gat waar ’n waterpyp sowat ’n jaar gelede oopgegrawe is, steeds nie opgevul nie.
Nog ’n diep gat in Calvynstraat in Parkwes staan al ’n jaar lank oop en skep groot gevaar vir mense wat op die sypaadjie beweeg.
Kotzé sê ’n gat wat Centlec in Junie 2023 in Bandelierweg in Fleurdal gegrawe het om ’n kabel te herstel, is steeds nie toegemaak nie.
“Die kabel is sedertdien twee keer gesteel wanneer dit beurtkrag is,” sê hy.
Nog ’n probleem is gevaarlike kragkabels en waterpype wat water onder druk gelei, wat blootgelê word. Kotzé sê inwoners is ook bekommerd oor die stabiliteit van grensdrade en mure.
“Eiendomsagente in Mangaung is bekommerd dat die slote en gate ’n invloed sal hê op die waarde van eiendomme en voornemende huiskopers sal afskrik,” sê hy.
“Sommige van die plekke is naby skole waar leerlinge gereeld verbyloop.”
Volgens Kotzé is terugvoer van die metro gereeld dat gate waar herstelwerk gedoen is, moet oop bly om toe te sien dat die herstelwerk behoorlik gedoen is.
“Dit word egter na enkele dae heeltemal vergeet.”
Hy sê kontrakteurs voldoen nie aan diensvlakooreenkomste nie en toesighouers doen nie voldoende oorsigbesoeke van herstelwerk wat aan infrastruktuur gedoen word nie.