Die nasionale ingrypingspan sê hy kon nie in ses maande ’n munisipaliteit regruk wat soveel agterstand het nie, boonop nie sonder genoeg geldelike bystand van nasionale vlak nie.
Tebogo Motlashuping, waarnemende stadsbestuurder van die Mangaung-metro, het inwoners Maandag (20/02) op een van die gemeenskapsvergaderings oor die geïntegreerde ontwikkelingsplan by die Hoërskool Sentraal toegespreek.
Dié plan word elke vyf jaar saamgestel en moet insette van inwoners bevat, wat eindelik deur ’n proses gaan sodat voorleggings uit verskillende wyke goedgekeur word – waarvoor daar in die begroting voorsiening gemaak moet word.
Motlashuping en talle lede van die ingrypingspan wat nou as departementshoofde aan die metro dien totdat hul termyn Dinsdag (28/02) tot ’n einde kom, het gemeenskapslede oor projekte toegespreek terwyl die publiek aan hulle voorstelle kon maak en vrae kon rig.
Inwoners van wyk 20, 21, 22, 44 en 48 kon talle sake onder die bestuur se aandag gebring.
Motlashuping het onder meer gesê 70% van die metro se paaie moet herseël word.
Wallace McLeod, waarnemende departementshoof van ingenieurswese, het op die vergadering gesê die metro benodig sowat R700 miljoen per jaar om paaie in stand te hou en te herseël. Dit terwyl daar net sowat R20 miljoen daarvoor begroot is.
McLeod sê sedert Mei verlede jaar is 31 km se paaie in die stad herseël.
Francois Nel, waarnemende hoof van vlootbestuur en vullisverwydering, sê net nege van die 49 vullisverwyderingsvragmotors is in ’n werkende toestand.
“Geen onderhoud is oor ’n lang tydperk gedoen nie en die enkele voertuie wat daar is, word oorwerk. Daar is geen geld in die huidige begroting vir die onderhoud van die vloot nie,” het hy op die vergadering gesê.
Hy het met sy intrede in die tydelike pos ’n stelsel begin waarvolgens ’n vasgestelde skedule vir vullisverwydering opgestel en bekendgemaak is.
Nel sê hy het by die nasionale departement van bosbou, visserye en omgewingsake aangeklop om geld beskikbaar te stel om die vloot, asook die vullisterreine se weegbrûe te herstel, en om die suidelike stortingsterrein te omhein. Een van die groot projekte wat beplan word, is ’n sentrale stortingsterrein vir die metro.
Inwoners het op die vergadering gevra waarom hulle nog moet betaal vir dienste wat hulle nie ontvang nie.
Werner Pretorius, DA-raadslid van wyk 20 wat as voorsitter op die vergadering gedien het, het bevestig dat hoewel die raad die aanstelling van ’n ombudsman vir Mangaung goedgekeur het, nog geen aanstelling gedoen is nie.