‘Metro sal na diere omsien’

Die Mangaung-metro gaan die Bloemfonteinse dieretuin met sy eie geld heropen en bedryf, sê Gregory Nthatisi, uit­voerende burgemeester.


Die Mangaung-metro gaan die Bloemfonteinse dieretuin met sy eie geld heropen en bedryf, sê Gregory Nthatisi, uit­voerende burgemeester.

Kos vir die diere gaan ook hieruit aangekoop word en professionele mense met die toepaslike kwalifikasies sal in diens geneem word.

Volksblad het op 7 Maart 2020 berig ’n somber atmosfeer het geheers toe die laaste diere uit die dieretuin verwyder en dit finaal gesluit is nadat talle diere weens honger gevrek het. Die dieretuin is in 1906 geopen, en teen 2020 moes 151 diere ’n ander heenkome kry.

Raadslede was op Vrydag 31 Mei bekommerd toe die metro se begroting vir die 2024-’25-boekjaar goedgekeur is, maar daar nêrens voorsiening gemaak is vir die aankoop van kos vir diere wat die burgemeester na die dieretuin wil terugbring nie.

Nthatisi het egter gesê dit gaan alles uit die metro se “eie geld” gefinansier word.

“In dié stadium skuld die Vrystaatse provinsiale regering die metro sowat R1,8 miljard, inwoners skuld sowat R7 miljard en sakeondernemings sowat R2,5 miljard.”

Hy sê die skuld aan die metro beloop sowat R11 miljard, terwyl die begroting wat goedgekeur is R11,8 miljard is.

“Ons bied ook aan inwoners 50%-afslag op skuld aan as hulle dit kom betaal. Ons sal met daardie geld onder meer die dieretuin in stand hou en kos vir die diere koop,” sê Nthatisi.

Raadslede was ook bekommerd oor die standaard van die hokke in die dieretuin, maar Nthatisi sê hy het die Bloemfonteinse DBV daar gehad om seker te maak dit is op peil.

Daar gaan net kleiner diere aangehou word, wat teen minder as kosprys van ander dieretuine in die land, soos die Johannes­burgse dieretuin, bekom sal word.

“Mense moenie paniekerig raak nie. Ons gaan mooi na die diere omsien.”

Hy sê groter diere sal by die metro se Kwaggafontein-dieretuin gehuisves word, maar hulle maak eers seker die veiligheids­maatreëls is voldoende.

Die heropening sal op die volgende raadsvergadering as agendapunt dien, sê Nthatisi.

“Ons sal eers daarna kan sê wanneer die dieretuin heropen gaan word.”

Volksblad het Maandag die dieretuin by Koningspark besoek en dit was silwerskoon, ook die hokke.

Volksblad het op 15 Junie 2019 berig die dieretuin kry ’n skamele R1,5 miljoen van die metro se begroting in die 2019-’20-boekjaar, met geen voor­siening wat gemaak is vir die verskuiwing van die diere na die Kwaggafontein-dieretuin nie. In daardie sta­dium sou die diere na Kwaggafontein verskuif word.

Nou is daar niks vir die dieretuin in die 2024-’25-boekjaar begroot nie, maar dit gaan heropen word, sê die raadslede.

Sello More, munisipale bestuurder, het op 24 Mei saam met ’n span wat gemoeid is met die dieretuin se heropening in die dieretuin gaan stap, sê Qondile Khedama, kommuni­kasiehoof van die metro.

“Die dieretuin is die afgelope paar maande skoongemaak, die gras is gesny en hokke is geverf,” sê Khedama.

Dr. Thabang Thinda, departementshoof van gemeenskapdienste in die metro, het ’n vorderingsverslag oor die dieretuin se heropening aan More oorhandig.

Hierin word die fases uiteengesit waarvolgens die dieretuin heropen gaan word.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.