Die Mangaung-metro, waar agt uit die nege rioolaanlegte onklaar is, het R70 miljoen van ’n diensleweringstoelae gekry om die rioolprobleme die hoof te bied.
Dié geld sal volgens ingeligtes egter nie naastenby genoeg wees om alles te doen wat gedoen moet word nie.
Tebogo Motlashuping, waarnemende munisipale bestuurder van die ingrypspan, het vroeër op ’n nuuskonferensie gesê hy is met drie ministers in gesprek sodat geld bewillig kan word om die rioolnetwerke van Bloemfontein, wat verouderd en voos is, oor te bou.
Wallace McLeod, waarnemende hoof van ingenieursdienste en infrastruktuur, het verlede week aan raadslede bekend gemaak dat die metro R70 miljoen vir rioolprobleme gaan kry wat deur die nasionale tesourie goedgekeur is.
“As alles goed gaan, sal die werk in Maart begin om van die rioolaanlegte reg te maak, wat ook met riooluitlope gaan help,” het hy gesê.
Selmé Pretorius, DA-raadslid van die metro, sê sy is verheug hieroor omdat raadslede van oor die politieke spektrum heen kla oor Bloemfontein se rioolvuilprobleme.
Dirk Kotzé, ook ’n DA-raadslid, sê hy weet nie hoeveel van die 650 rioolprobleme wat in Desember en Januarie op ’n waglys in die metro was al aandag gekry het nie.
“Wat ek wel weet, is dat daar nie meer ’n water- en sanitasiespan oor naweke werk nie en dat hulle almal Vrydag om 16:00 geloop het. Dié mense werk nie meer oor naweke nie omdat daar nie oortyd betaal kan word nie.”
Hy weet van inwoners wat teen R600 van private kontrakteurs gebruik gemaak het. Omdat die infrastruktuur nie reg is nie, hou dit net ’n rukkie en dan is die probleem terug en kos dit weer soveel.
Nog net een van die nege rioolwatersuiweringsaanlegte in die metro is al herstel, sê hy.
“Die munisipale bestuurder het die inwoners van Bloemfontein die rug toegekeer toe ons hom om ’n bystandnommer vir rioolprobleme oor die Kers- en Nuwejaarsvakansie gevra het. Daarom het die probleme handuit geruk en opgehoop,” sê Kotzé.
Rossouw Botes, DA-raadslid, sê hulle is moedeloos met al die rioolprobleme.
“Ons verwys nou al die probleme na die Menseregtekommissaris omdat ons niks regkry het met die metro nie. Jy kan boodskappe stuur vir wie jy wil, maar niemand maak dit reg nie. Ons het rioolprobleme wat al van Augustus 2022 kom en wat nog nie herstel is nie.”
Valerie de Kock, VF Plus-raadslid, sê dié party kry geweldig baie klagtes oor rioolprobleme in Bloemfontein.
“Ons het nou die dag ’n lys met 26 klagtes wat al lank gelede ingedien is by die munisipaliteit ingedien. In Heidedal is twee rioolprobleme wat so erg is dat die rioolvuil in die mense se huise terugstoot.”
Sy sê bejaardes sit nou al weens die rioolvuil met gesondheidsprobleme. McLeod gaan van die geld wat die metro kry, gebruik om rioolpype in onder meer die Chris Hani- informele nedersetting en Heidedal te vervang.