Metro slaan toe op onwettige huise

Die Mangaung-metro het Dinsdag (22/11) met ’n span amptenare op onwettige studentehuise in Pres. Paul Kruger-laan in Universitas toegeslaan en sê hy gaan stewige boetes aan eienaars oplê.


Die Mangaung-metro het Dinsdag (22/11) met ’n span amptenare op onwettige studentehuise in Pres. Paul Kruger-laan in Universitas toegeslaan en sê hy gaan stewige boetes aan eienaars oplê.

Die metro-afvaardiging was blykbaar verstom oor wat in die studentehuise aangetref is.

“Die eienaars se oogmerk met die studentehuise is maksimale wins tot elke prys, terwyl hulle self snoesig in ryk Bloemfonteinse woonbuurte soos Woodland Hills woon,” het een van die inspekteurs opgemerk.

Smittie Smith, bestuurder van grondgebruik-wetstoepassing, het gesê boetes van R13 982,76 gaan opgelê word vir elk van die 780 onwettige studentehuise in Bloemfontein waarvan hulle weet, en dan R3 495,69 per maand totdat die situasie opgelos is.

George Masuabi, hoofbestuurder van strategiese ondersteuning en beplanning van die metro, het gesê verdere inspeksie by studentehuise in Universitas sou volg. Hulle sal na verwagting Maandag (28/11) vergader, en daarna sal die wetstoepassingsproses begin.

By een huis is die dubbel­motorhuis met mure van saamgeperste hout in vier kamers omgeskep en die maandelikse huurgeld is R3 500 per student.

“Die eienaars van die onwettige studentehuise sê vir ons hulle is klein-, medium- en mikro-entrepreneurs en ons moet hulle help aansoek doen om hul sakeondernemings te wettig,” het metro-amptenare gesê.

Die metro se bou-, gesondheids- en ander regulasies word egter oortree. Inwoners van Universitas bou links en regs studentewoonstelle op erwe of doen aanbouings aan die woonhuise sonder goedgekeurde bouplanne, sê hulle.

  • Gert van der Merwe van die Multi-Let-eienaarsvereniging, wat lede het wat huisvesting aan studente en werkende jongmense bied, sê hulle is teen die verskaffing van onwettige verblyf gekant.

“Studente moet egter nie uitgesonder word nie en dieselfde reëls behoort vir almal te geld. Ons lede is by die universiteit geakkrediteer en volg die riglyne van die metro wat in Desember 2021 goedgekeur is.”

  • Intussen het inwoners van Universitas ’n petisie teen alle onwettige studentehuise begin.

Inwoners wat dit wil onder­teken en inligting wil deel, kan Frikkie Eisenberg by 083-284-8283 kontak om toegang tot die groep te kry.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.