Die Mangaung-metro het hom by monde van die algemene bestuurder van kommunikasie, Qondile Khedama, sterk uitgespreek teen betogers wat munisipale amptenare gedreig en een selfs aangeval het.
Dit was glo lede van die Mangaung Concerned Community (MCC) wat Maandag (07/02) die Centlec-kantoor beset en die Bram Fischer-gebou, oftewel die Glaspaleis, bestorm het.
Khedama sê hoewel die polisie tussenbeide gekom het, veroordeel die munisipaliteit gewelddadige optrede.
“Hierdie voorval kom ongelukkig in ’n tyd dat die uitvoerende burgemeester, Mxolisi Siyonzana, in gesprek is met belanghebbendes in die gemeenskap,” sê Khedama.
“Ons verstaan dat protesoptrede die lewenslyn van demokrasie is omdat dit inwoners ’n manier bied waarop hulle hul misnoeë oor leierskap te kenne kan gee, maar ons moedig ’n gestruktureerde benadering aan, soos wat die burgemeester nou volg.”
Hy sê die burgemeester het hom op die taak toegespits om met raadslede, plaaslike sakelui, tradisionele leiers, godsdiensleiers en gemeenskappe oor dienslewering te vergader en om ’n plaaslike ekonomie te vestig wat werk sal skep en die ekonomie in die metro ’n hupstoot sal gee.
Marietjie Gericke
het vir Volksblad en Netwerk24berig Hennie Stander, ’n administrateur van die munisipaliteit se geografiese inligtingstelsels (GIS), is ten tyde van die besetting van die Glaspaleis aangerand. Centlec se werkers is verjaag en die verspreider se geboue is gesluit, het Thapelo Khadi, uitvoerende komiteelid van die MCC, gesê.
Hy het erken die MCC is vir die voorvalle in die Glaspaleis en by Centlec verantwoordelik.
Khedama sê in die verklaring Teboho Maine, waarnemende stadsbestuurder, het met Stander vergader en onderneem om aan die veiligheid van die stad se werkers aandag te gee.