Metro-werkers as ‘politieke instrumente’ grief DA

Die raadsvergadering van die Mangaung-metro wat Woensdag gehou moes word om die metro se uitvoerende burgemeester en hoofsweep vir die raad te kies, is deur protesoptrede in die wiele gery.


Johan PretoriusFoto: Lientjie Mentz

Die raadsvergadering van die Mangaung-metro wat Woensdag gehou moes word om die uitvoerende burgemeester en hoofsweep vir die raad te kies, is uitgestel nadat dit deur protesoptrede in die wiele gery is.

Raadslede is deur werknemers van die metro gekeer om by die Bram Fischer-gebou (Glaspaleis) in te gaan, terwyl talle opposisielede binne die gebou vasgekeer was.

Johan Pretorius, leier van die DA-koukus in die metro, sê die DA is kwaad oor die protesoptrede deur munisipale werkers wat volgens hom deur die ANC as politieke instrumente gebruik is om die vergadering te keer.

Die gebeure kom nadat agt van die ANC se raadslede op 31 Maart uit dié party geskors is ná ’n raadsvergadering op 29 Maart waarop ’n speaker uit die opposisiegeledere gekies is.

Pretorius sê die ANC se onwilligheid om die leisels van mag oor te gee, is duidelik uit die onwettige taktieke om te keer dat ’n uitvoerende burgemeester aangestel word.

“Die ANC is die vyand van demokrasie,” sê hy in ’n nuusverklaring wat Woensdag uitgereik is.

Hy sê dit is skokkend dat opposisieraadslede binne die Glaspaleis aangehou en en twee DA-raadslede hardhandig behandel is terwyl polisielede net op ’n afstand toegekyk het.

Die raadsvergadering is nou vir 14 April beplan, en die lokaal is nog nie bekend gemaak nie.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.