Reëlings is goed op dreef vir die volgende veiling wat ten bate van Volksblad en Sentraal24 se Ons gee om-fonds aangebied word.
Die vrywilligers Attie en Betsie Roux, Sobeth Jordaan en Jackie Steyn gaan weer kragte met Pieter Erasmus van die Bainsvlei-afslaers saamsnoer om op Saterdag 21 Mei ’n veiling by die afslaers aan te bied.
Enigeen wat antieke meubels op die veiling wil verkoop, kan die organiseerders kontak.
Die losgoed-veiling, ’n nuutjie, kan ook verwag word.
Lesers wat huisraad wil skenk of vir ’n klein bedrag wil verkoop, kan dit na die Bainsvlei-afslaers neem en sê dat dit vir die Omgeefondsveiling geoormerk moet word.
Volgens Betsie sal die vrywilligers graag weer, soos in die dae toe Junior Bezuidenhout die veilings behartig het, huisveilings en veilings in die platteland wil aanbied waar daar ’n behoefte is.
Daar is ook ’n behoefte aan vrywilligers wat met die toesighouding en organisering op die dag van die veiling kan help.
“Ons het reeds ’n mooi klompie meubels vir die komende veiling ontvang,” sê Betsie.
“Dit sluit sitkamerstelle, koffietafels, beddens en lessenaars in. Heelwat losgoed is ook reeds ontvang.”
Belangstellendes kan Bloemnuus dophou vir ’n opwindende aankondiging en meer inligting oor die veiling.
- Navrae oor die veiling kan gerig word deur Betsie by 082-413-9275 te bel.
- Skenkings aan die fonds kan gedoen word by die volgende rekening-besonderhede: Volksblad Kersfonds, Nedbank-tjekrekening
102-891-9980, takkode 117-134. ’n Afskrif van die betalingstrokie kan per e-pos na ria@engo.co.za gestuur word.