Die eerste veiling ten bate van Volksblad en Sentraal24 se Kersfonds vir 2024, word op Saterdag 8 Junie om 11:00 by Bainsvlei-afslaers aangebied.
Besigtiging van die voorraad kan die dag van 09:00 af by die perseel in Bainsvlei gedoen word.
Betsie Roux, voorsitter van die komitee wat dié gereelde veilings reël, sê daar is pragtige meubels en ander antieke stukke wat verkoop word.
Pieter Erasmus van Bainsvlei-afslaers en sy span sal die veiling behartig.
“Die voorraad sluit besonderse antiekeware in wat onder die hamer kom,” sê Roux. Een daarvan is ’n 1880 Kaapse Afrikana handgekerfte bank uit ’n boedel.
Daar is drie antieke silwerbeslaande kosbeskermers, ’n antieke Kaapse koperbeker en vaas, kristalglase, ivoorornamente, antieke Delftplate en vase, ’n eetservies van Royal Doulton, ’n antieke Persiese muurtapyt en ’n besonderse okkerneuthout-laaikas.
Rig navrae oor die veiling aan Roux by 082-413 9275.