Dit was vir haar ’n groot uitdaging, maar haar deelname aan Mev. Heelal Suid-Afrika was vir haar baie lekker.
Só gesels
Uyleta Nel-Marais (31), ’n direkteur van Lovius Block-prokureurs in die stad, nadat sy Donderdag (17/02) as Mev. Heelal Suid-Afrika 2022 gekroon is
.
Bloemnuus
het in September 2021 berig oor die prokureur wat deur middel van dié kompetisie vroue wil bemagtig.
Sy het tydens haar deelname aan die kompetisie die organisasie One Nation: Our Women and Children Against GBV (“gender-based violence”) gestig om Bloemfonteinse vroue wat uit slegte omstandighede ontsnap, hoop te gee.
Sy sê al die uitdagings wat sy moes oorkom, was absoluut die moeite werd.
“Dit maak die oorwinning soveel lekkerder. Ek het gegroei, nuwe vriendinne gemaak en so baie geleer.”
Nel-Marais sal nou die land op ’n internasionale kompetisie verteenwoordig.
Sy wil hierdie platform gebruik om die bemagtiging van vroue met nog groter reikwydte aan te pak.
“Ek wil One Nation: Our Women and Children Against GBV na die res van Suid-Afrika uitbrei.”
Die internasionale kompetisie word eers volgende jaar gehou en sal moontlik in Suid-Korea aangebied word.