Die Bloemfonteiner Len-Douglas Mac Kay swem volgende week in die koue waters van die Middelandse See waar hy as deel van die Protea-span aan die internasionale mensereddingsfederasie (ILF) se Afrika-bekertoernooi gaan deelneem.
Dié gr. 11-leerling aan die Hoërskool Jim Fouché het vanjaar reeds op twee kompetisies presteer.
Op die Gauteng- provinsiale mensereddingskompetisie op 22 Januarie het hy ’n eerste plek in die oopwaterswem vir seuns 17 tot 18 jaar behaal, asook in die oopwaterswem-en-hardloop-nommer en die oopwater-plankresies.
Hy het ook die eerste plek in die Ysterman-uitdaging se oopwaterswem-afdeling behaal, en was deel van die wenspan in die aflosnommer. Sy twee spanlede is Branden Willows (hardloop) en Kai Davey (plankresies). Adrian le Roux, ’n gr. 12-leerling, het ook aan die kompetisie deelgeneem en derde gekom in die pyp-aflosnommer saam met spanmaat Marnitz van der Berg.
Len-Douglas het die volgende naweek aan die KwaZulu-Natalse oopwater-mensereddingskompetisie deelgeneem, waar hy eerste was in die 400 m-swemnommer vir seuns 17 tot 18 jaar, asook die nommer waarin hulle 100 m hardloop, 400 m swem en weer 100 m hardloop.
In die afdeling vir senior mans kon hy die derde plek in die 400 m-swemnommer behaal.
Hy vertrek Maandag na Alexandrië, Egipte, om in die Afrika-bekertoernooi mee te ding. Dié byeenkoms sou aanvanklik in Desember aangebied word, maar is weens die Covid-19-pandemie na Februarie uitgestel.
Len-Douglas sê hy het hard geoefen vir die kompetisie in Egipte – hy het elke dag omtrent 8 km geswem.
Sodra hy van Egipte terugkom, gaan hy in Benoni aan die Suid-Afrikaanse stilwaterkampioenskap deelneem. In Maart kom die Suid-Afrikaanse klubkampioenskap in Gqeberha aan die beurt. Diegene wat op dié byeenkomste uitblink, sal gekies word vir die nasionale span wat in Mei na Spanje toer en in Junie aan die wêreldbyeenkoms in Japan gaan deelneem.
Clinton Thomas van die Neptune Aquatics-klub slyp Len-Douglas se swemvaardighede, terwyl Chantel Smith hom in menseredding afrig.