Nadat sy twee jaar gelede in ’n duikongeluk verlam is, durf Liane Heymans, dogter van Dougie Heymans, die ontslape voormalige Vrystaatse rugbyspeler, vanjaar die Midmar-myl aan.
“My pa het altyd gesê ’n mens moet ’n vrees of uitdaging vierkantig in die oë kyk en dit aanpak en oorwin. Ná die ongeluk was my grootste vrees om in die water te wees – nou gaan ek die Midmar swem.”
Haar pa is in Junie verlede jaar ná ’n weke lange stryd teen Covid-19 dood. Liane, van Bloemfontein, het op Oujaarsdag in 2019 haar sesde nekwerwel gebreek toe sy in ’n swembad by die Gariepdam-oord ingeduik het. Ná die ongeluk het dokters voorspel dat sy van haar nek af ondertoe heeltemal verlam sou wees, maar Liane het teruggeveg en beweging in haar arms herwin. Sy het nou ook gevoel in haar bene.
Sy het net meer as ’n jaar gelede, op 12 Januarie, begin oefen om haarself weer swemfiks te kry en het in September verlede jaar besluit sy neem vanjaar aan die Midmar-myl deel.
Toe sy ’n jaar gelede weer terug in die swembad klim, “was dit net pool noodles waar jy kyk”.
“Ek het letterlik net in die water gedryf en almal het om die swembad gestaan, want hulle was so bang ek verdrink.”
Nou, ’n jaar later, kan sy gemaklik 64 lengtes (1,6 km) in die Virgin Active Noordstad se swembad swem. Haar swemafrigter, Hannelie du Randt (die oud-Springbok Os du Randt se vrou) het haar soos ’n klein kindjie van voor af leer swem.
“Voor die ongeluk was ek ’n goeie swemmer en het jaarliks saam met my skool (Eunice High School) die Midmar gaan swem. Ek duik nou van die rolstoel af in die water. Dan draai ek myself totdat ek regop is, sit ’n band om my bene om hulle bymekaar te hou en swem met my arms.”
Hoewel rugslag haar beste swemnommer is, kan sy ook vryslag aandurf, al gaan dit soms sukkel-sukkel.
“Toe ons begin het, kon ek nie myself dra en my arms oplig om uit die water te kom nie, so swak was ek. Tannie Hannelie moes langs my in die water staan en my help. Nou swem ek self.”
Sy is vasbeslote om die Midmar-myl op 12 Februarie vanjaar klaar te maak en wil dit aan haar pa opdra.
Ná haar ongeluk het pa Dougie op sy unieke manier seker gemaak sy dogter hou moed en bly aan die gang.
“Hy het as ‘Die Skrummasjien’ bekend gestaan in sy rugbydae. Hy het baie van daai rugbytegnieke op my probeer. Ons het baie gelag.”
Sy sê al was haar pa aanvanklik skepties oor die Midmar-idee, was dit hy wat haar geleer het dat ’n mens jou vrese moet oorwin.
“Ek swem dit op ’n manier nou ook vir hom, om hom trots te maak,” sê Liane.
“Ek het vinnig besef dat as jy nie ’n doelwit het om na te streef nie, kan ’n mens maklik stilstaan en in ’n depressie verval – veral in die lig van die voortslepende pandemie.”
Sy wil haar swemmyl ook aan ander gestremdes opdra wat wens hulle kon doen wat sy doen.
“Ek wil wys dat ’n gestremdheid ons nie anders maak nie.”