’n Belangrike mylpaal sal Saterdag bereik word wanneer die miljoenste “unieke” deelnemer parkrun in Suid-Afrika voltooi.
Die getal van 1 miljoen deelnemers sluit ook vrywilligers in, wat die ruggraat van parkrun is.
Die parkruns in Bloemfontein is drie van 220 oor die land heen. Meer as 10 800 mense het al die afgelope sewe jaar aan die parkrun-geleenthede in Heidedal, Brandkop en Inibos deelgeneem.
Johan Duvenhage, ambassadeur vir Heidedal-parkrun, sê as betrokkenes by die oudste parkrun in Bloemfontein is dit vir hulle ’n groot vreugde om aan die mylpaal deel te hê.
“Dit is ’n massiewe getal, maar parkrun gaan ook oor die klein dingetjies wat ons elke week sien: die glimlagte, die vriendskappe en die vriendelike en verwelkomende gemeenskap wat ons geskep het,” meen Duvenhage.
“ ’n Groot dankie aan al ons fantastiese vrywilligers wat dit elke week moontlik maak.”
Diane Vosloo, ambassadeur vir Brandkop- en Inibos-parkrun, moedig Bloemfonteiners opnuut aan om deel te neem.
“Ons sien uit daarna om baie nuwe – en voorheen aktiewe – parkrun-deelnemers by ons parkruns te verwelkom. Kom sluit jou by ons aan op ’n Saterdagoggend. Dit is gratis, almal is vriendelik, en dit maak nie saak hoe vinnig jy is nie.
“Jy kan stap, draf of hardloop, of help as ’n vrywilliger. Ons hoop om jou binnekort te by een van Bloemfontein se parkruns te sien.”
Bruce Fordyce, die president van parkrun Suid-Afrika, is erg opgewonde oor hierdie mylpaal.
“Wie sou kon raai, toe ons by die inhuldiging van die Delta-parkrun met slegs 29 deelnemers gestaan het, dat ons net 13 jaar later sou sien dat meer as 1 miljoen mense deelgeneem het hier by parkrun in Suid-Afrika? Dis ongelooflik!” sê Fordyce.
“Ek is opgewonde om te sien wat voorlê vir parkrun in Suid-Afrika. Daar is soveel meer mense wat kan baat vind by parkrun, hetsy deur te stap, draf, hardloop of vrywilligerswerk te doen, en ons sien uit daarna dat nog ‘n miljoen Suid-Afrikaners hulle oor die volgende paar jaar sal registreer.”
Die Vrystaat het 17 aktiewe parkruns, met die nuutste die Pine Forest-parkrun wat onlangs in Paul Roux begin is.