Hoewel R13 miljoen begroot is vir nood-vullisverwydering deur ondernemings in die Mangaung-metro, het niks daarvan gerealiseer met die staking van werknemers die afgelope weke nie.
Dirk Kotzé, die adjunk-voorsitter van die DA in die Mangaung-metro, sê 16 klein, medium en mikro-ondernemings is aangestel om tot 30 Junie 2024 vullisverwydering in woonbuurte te doen wanneer daar probleme met die vloot of stakings weens salaris-dispute is, soos nou.
“Hoewel daar begroot is vir R13 miljoen om hierdie uitgawe te dek, het inwoners nie die diens gekry nie en ly mense onder gesondheidsprobleme en omgewingsgevolge van die vullis wat ophoop.”
Kotzé sê DA-raadslede word oorval deur klagtes van ontevrede inwoners weens die risiko’s van vullis wat ophoop.
“Ondanks die daaglikse publikasie van vullisverwyderingsprogramme is inwoners dikwels teleurgesteld weens die gebrek aan dienslewering.”
Die DA lê die skuld voor die deur van raadslid Lawrence Mathae, wat as algemene bestuurder van die afdeling vir vullisverwydering en vlootbestuur bedank het en na bewering die kontrakteurs se kontrakte hernu het sonder om vereiste prosedures te volg.
Die DA gaan ook die verteenwoordigers van die nasionale kabinet vra om ondersoek in te stel of dié kontrakteurs beskikbaar was om die dienste te lewer terwyl munisipale werkers gestaak het.
Woonbuurtverenigings, wyksraadslede en ander organisasies het die afgelope tyd projekte begin om te help met opruiming, en Saterdag was daar ’n groot skoonmaak-optrede by die Memorium-begraafplaas.
Kotzé sê die afwesigheid van die waarnemende stadsbestuurder, Tebogo Motlashuping, wat vrystelling van sy pligte weens sy gesondheid versoek het, vererger boonop die situasie.
“Ons sal voortgaan om die nasionale regrukspan verantwoordbaar te hou vir hul beloftes om dienslewering te bevorder, en ons hoop die Mangaung-metro sal spoedig optree teen die agterstand met vullisverwydering in die stad.”