Die Mangaung-metro betaal miljoene vir die beveiliging van die metro se bates en sy inwoners, maar die DA bevraagteken of dié uitgawes die diens wat verskaf word, regverdig.
Tydens ’n besoek aan die metro se rampbestuursentrum waar die polisie, die verkeersdepartement en wetstoepassingsbeamptes verteenwoordigers het wat die metro se kringtelevisiekameras moet dophou en reaksie bied waar nodig, was die stelsel tydens ’n besoek Maandag (12/12) buite werking. Daar was net een personeellid in die hele sentrum wat DA-raadslede Dirk Kotzé en Tjaart van der Walt rondgewys het. Hy sê die stelsel was reeds sedert Sondag af en is gereeld buite werking.
Van die 149 kringtelevisiekameras in die stad en die tegnologie om die beelmateriaal te monitor, is daar R120 miljoen opgedok. Tog werk daar blykbaar net 18 van dié kameras en as daar beurtkrag in ’n gebied is waar daar ’n kringtelevisiekamera is, is die beeldmateriaal ook nie beskikbaar nie. Boonop het die kontrakteur wat die stelsel moet versien se kontrak geeindig en is ’n nuwe kontrakteur wat moet kyk dat alles werk, nog nie aangestel nie.
Van der Walt sê daar word ook vrae gevra oor die byna R11 miljoen wat die metro elke maand betaal aan uitgekontrakteerde sekuriteit by verskillende plekke in die metro.
Vir Ramkraal, die destydse gevangenis wat nou net ’n bouval is, is daar volgens dokumente twee nagdiensoffisiere per skof wat die stad R91 622,60 per maand kos.
By nog ’n perseel wat besoek is, was daar net een sekuriteitsbeampte aan diens terwyl daar volgens dokumente ses per dagskof aan diens moet wees.
By die Sunnyside-gruisgroef was net een beampte aan diens terwyl hy sê sy kollega is in ’n nabygeleë huis. Volgens dokumente van twee verskillende veiligheidsfirmas moet daar bedags ses aan diens wees by dié gruisgroef buite die stad. Die beamptes het ook geen elektrisiteit asook geen toiletgeriewe nie. Hulle het ook geen radio’s om hulp te ontbied indien nodig nie en moet hul eie lugtyd en selfone gebruik indien hul noodoproepe wil maak.
Nog ’n plek wat heeltemal vervalle is, kos belastingbetalers maandeliks R79 671,82. Tydens ’n dagskof was daar net een veiligheidsbeampte sigbaar by die vervalle Arthur Nathan-swembad, maar hy het gesê hy het ook ’n kollega wat aan diens is. Die metro betaal vir twee veiligheidsbeamptes per dag en twee snags. Die beampte wat daar was, sê hulle hou bosslapers uit die perseel. Dié vieslike vuil swembad het intussen ook vol water geloop weens reën, maar ook weens ’n lekplek wat blykbaar al aangemeld is.
Kotzé sê baie van die misdaad en wetteloosheid in die stad kan verhoed word as wetstoepassers en die metropolisie aktief hul werk doen.
Hy sê die metropolisielede wat maande lank by die huis gesit het en geen opleiding ontvang het nie, se kontrakte het nou uitgeloop. Die hoof van die metropolisie se kontrak eindig ook nou in Desember.
Kotzé sê die metro is gewaarsku dat daar nie geld in die begroting is vir ’n metropolisiemag nie, hoewel die dienste baie nodig is omdat vandalisme van die metro se eiendom baie kos.
“Die nasionale tesourie het reeds in 2017 gesê dat die metro nie ’n polisiemag kan bekostig nie en dit in 2021 beaam. Steeds bly dié metropolisie deel van die metro se bestuurstruktuur,” sê Kotzé.
“Openbare veiligheid is eenvoudig nie ’n prioriteit vir die Mangaung-metro nie,” sê Van der Walt.