Nita Scholtz-Albertse en Caden Kakora.Foto: Verskaf


Ná haar deelname aan die Olimpiese Spele het Bloemfontein se Nita Scholtz-Albertse eers ’n maand gerus voordat sy weer begin oefen het om haar doelwitte te bereik.

Sy het einde verlede maand aan haar eerste internasionale toernooi sedert die Olimpiese Spele deelgeneem, en duidelik het haar ervaring haar op ’n hoër vlak geplaas.

Op die Suid-Afrikaanse Internasionale Ope wat van 28 November tot 1 Desember in Kaapstad aangebied is, het Scholtz-Albertse gemaklik gewen.

Negentien verskillende lande het aan die toernooi deelgeneem maar geen vrou kon naby haar vlak kom nie. Scholtz-Albertse het geen stel afgestaan nie. In die finale vroue enkelspel het sy ’n baie hoog aangeskrewe Italiaanse speler, Gianna Stiglich gemaklik geklop.

Sy het ook vir die gemengde dubbelspel ingeskryf en dit gemaklik gewen sonder om ’n stel af te staan. Sy het die dubbelspel saam met haar jong spanmaat van Bloemfontein, Caden Kakora, gespeel.

Kakora is duidelik geïnspireer deur Scholtz-Albertse en is baie honger om ook op Olimpiese vlak deel te neem. Hy het ook in die dubbelspel ’n bronsmedalje gewen.

Robert Summers het twee silwermedaljes gewen: in dubbelspel en gemengde dubbelspel.

Dié spelers gaan nie deur Desember werklik ’n blaaskans neem nie, want ’n baie belangrike Afrika-kampioenskapsbyeenkoms, in Februarie in Kameroen, wag op hulle. Met Elme de Villiers wat boonop uit Duitsland terug is om vir die byeenkoms voor te berei, is dié pluimbalspelers se toekoms rooskleurig.

You need to be Logged In to leave a comment.