Kry vroegtydig jou kaartjie vir toegang tot die Vrystaat Kunstefees se minimark, wat van 12 tot 16 Julie op die hoofkampus van die Universiteit van die Vrystaat (UV) aangebied word.
Atie Kamper, organiseerder van die minimark, sê daar gaan sowat 120 stalletjies wees met alles van kos en handgemaakte produkte tot wyn en kuns.
Die minimark word in en om die Callie Humansaal en die Eksamensentrum gehou. Konvokasiestraat, wat tussen die twee geboue loop, sal vir die duur van die mark gesluit wees.
Die Summerwood-landgoed se restaurant sal binne die eksamensentrum wees. Die Vrystaat Kunstefees se kantoor sal vir hierdie eerste deel van die fees ook hier gevind kan word.
Die hooffees sal in Oktober aangebied word.
Besoekers kan uitsien na eetgoed soos pannekoek, halloumikaas, whiskey en jenewer, asook die heerlikste koffie om die winterkoue te verdryf.
Vir die eerste keer in jare sal Elsa Barnard weer op die mark wees met haar sybokhaar-matte. Haar stalletjie is in die voorportaal van die Callie Human.
As die koue byt, gaan loer na die warm donsbaadjies en -komberse op die mark.
Spesiaal vir die kinders is daar springkastele en ander prettigheid.
Die mark open die Dinsdag om 10:00 en sal daarna elke dag van 09:00 tot 19:00 oop wees.
Toegangskaartjies teen R20 is vooraf op webtickets.co.za te koop.
Koop ook daar kaartjies vir die nege vertonings wat tydens die minimark aangebied word. Die debuutvertoning Laerskool Noord gaan een van die hoogtepunte wees tydens hierdie deel van die fees. Vir die kinders is daar Liewe Heksie.
Besoekers moet by die ingang na die kampus bewys lewer van ’n inentingsertifikaat of negatiewe Covid-toets om aan die UV se regulasies te voldoen.