Tyd raak min om kaartjies te koop vir die nege produksies wat deel is van die Vrystaat Kunstefees se minimark van 12 tot 16 Julie. Die minimark word op die hoofkampus van die Universiteit van die Vrystaat (UV) aangebied.
Ná twee jaar van aanlyn produksies kan feesgangers weer winterpret ervaar met die eerste deel van die fees volgende week. Die hooffees vind in Oktober plaas.
Hoewel die minimark se aanbod ietwat kleiner is as met die hooffees, sal daar steeds heelwat stalletjies met uitgesoekte en handgemaakte produkte wees, asook kosstalletjies. Die stalletjies is vanjaar in en om die Callie Humansentrum en by die Eksamensentrum geleë.
Op die Bloemnuus-Oopverhoog gaan kunstenaars – ook ontluikende plaaslike sangers – feesgangers vermaak.
Een van die teaterproduksies wat te sien is, is die komedie Laerskool Noordmet Margit Meyer-Rödenbeck, Marion Holm, Neels Coetzee en Ilne Fourie.
Nog ’n vermaaklike vertoning is The Dressing Room, wat die werklike manewales van ’n gemeenskapsteater-musiekblyspel deel. Die gehoor kan lekker lag vir dié vertoning deur die UV se drama- en teaterkundestudente, saam met Rondo Mpiti.
Kinders kan op elke dag van die minimark om 10:00 Liewe Heksie en die Rolskaatse sien.
Hoe later, Hoe kwater! is ’n Afrikaanse vertaling deur Pierre van Pletzen van Michael Pertwee en John Chapman se teaterstuk Holiday Snap.
Iets vernuwends op die program is POP, ’n multidissiplinêre dansstuk wat geestesgesondheidskwessies verken wat met homofobie verband hou.
Drie produksies in die Aasvoëlklub is ook deel van die minimark: ’n mini-ABBA-vertoning, die vertoning van Radio Waves en dié van die legendes van Afrikaanse musiek.
Kaartjies vir vertonings is op webtickets.co.za beskikbaar. Tik in die soekruimte: Vrystaat Kunstefees Minimark. Al die vertonings, kaartjiepryse en vertoontye word op die webblad aangedui.
Kaartjies vir toegang na die kampus is vooraf teen R20 op die webblad te koop. Kaartjies sal ook tydens die feesweek verkoop word op die parkeerterrein by die besoekersentrum by hek 5 uit DF Malherberylaan op die UV-kampus. Besoekers sal ook hier Covid-19 antigeen-sneltoetse kan laat doen om toegang te kry indien hulle nie inentingsertifikate het nie.
Vir inligting oor die Vrystaat Kunstefees stuur e-pos na mark@vrystaatkunstefees.co.za of ’n WhatsApp-boodskap na 063-584-4379.