Stigterslede van National Crime Assist (NCA) was Vrydag (11/02) in Bloemfontein vir ’n kuiergeleentheid by die Aasvoëlklub.
Hulle het saam met talle lede van verskeie woonbuurtverenigings gekuier.
Volgens Salna Steyn, een van die nasionale bestuurslede wat veral op die insameling van misdaadstatistieke fokus, is baie inligting beskikbaar wat patrolleerders kan help om hul werk beter te doen.
“Enigeen wat iemand in nood bystaan, kan weens onkunde ’n misdaadtoneel kontamineer,” sê sy.
“Dit gebeur dikwels dat misdaadtonele juis deur mense se opregte omgee gekontamineer word. Dit word nie doelbewus gedoen nie, maar weens ’n gebrek aan kennis. Die klok kan egter nie teruggedraai word om die skade ongedaan te maak nie.”
Die bekende ondersoeker Mike Bolhuis sê die vertroebeling van ’n misdaadtoneel is 90% van die tyd die rede waarom misdadigers nie behoorlik vervolg kan word nie.
Daarom is dit nodig om te leer hoe om ’n misdaadtoneel te bewaar en wat om te doen indien jy op ’n misdaadtoneel afkom.
Steyn gee ’n paar wenke:
- As niemand op ’n misdaadtoneel in nood verkeer nie, kan jy hulp ontbied en toesien dat niemand na die toneel gaan totdat hulp opdaag nie. Wat mense dikwels nie besef nie, is dat jy ’n verdagte word wanneer jou voetspore, DNS of voertuig se spore op ’n toneel gevind word.
- NCA-lede kan die Namola-noodknoppie druk vir bystand. Daardeur word die Suid-Afrikaanse Polisiediens en NCA-reaksielede in kennis gestel. Sou verdere dienste benodig word, sal die NCA dit behartig.
- As iemand op ’n moontlike misdaadtoneel in nood verkeer en jy geen gevaar opmerk nie, kan jy met sorg die toneel betree om hulp te verleen. Maak seker van die roete wat jy neem om ondersoek in te stel. Neem ’n video of foto’s om aan polisielede te oorhandig om jou toetrede daardeur te dokumenteer. Geen foto’s van ’n misdaadtoneel mag sonder die toestemming van die polisie se ondersoekbeampte op die sosiale media gedeel word nie.
- Indien ’n tweede mens saam met jou die misdaadtoneel betree, moet die tweede in die eerste se spore volg. Sien toe dat nooddienspersoneel ook hierdie roete volg. Indien moontlik is dit beter as die tweede mens eerder verhoed dat ander die toneel betree. Sou ander voertuie op die toneel aankom, moet hulle ver genoeg van die toneel af stop. Sien ook toe dat hulle ordelik parkeer en nie die pad versper nie, sodat nooddienste en polisie by die toneel kan uitkom.
- Sodra jy die slagoffer bereik het, kan jy hom of haar bystaan totdat nooddienste opdaag. Gee die nodige inligting van die situasie aan nooddienste deur, asook ’n breedvoerige verklaring en die video of foto’s wat jy geneem het.
“Ons doen ’n ernstige beroep op elkeen om ’n misdaadtoneel met die nodige kennis en erns te betree,” sê Steyn.
“Sal jy met jouself kan saamleef as jou kontaminasie van ’n misdaadtoneel veroorsaak dat ’n aanvaller nie vervolg kan word nie? Sal jy bereid wees om dit aan die slagoffer te verduidelik?”