Misdaad word ’n al ernstiger probleem in Bloemfonteintein.
Dit kom ná gewapende rooftogte by winkelsentrums die afgelope twee weke en twee mans wat Maandag (11/07) in die Bloemfonteinse middestad in hegtenis geneem is nadat hulle betrap is dat hulle ’n gebou plunder.
’n Juwelierswinkel in Northridge Mall is Donderdag (07/07) deur gewapende rowers van juweliersware beroof. Dit kom net twee weke ná die gewapende roof in Mimosa Mall.
Herman Lombard van National Crime Assist (NCA) sê geboue in die middestad word nie net onwettig bewoon nie, maar word ook geplunder dat net leë strukture oorbly wat miljoene rande sal kos om te herstel.
’n Oproep om bystand te verleen, het Maandag kort na 18:00 uitgegaan dat ’n eienaar van ’n gebou in Charlotte Maxekestraat vermoed sy gebou word van meubels en goedere gestroop. Noodbystandeenhede is na die middestad wat uiteindelik daartoe gelei het dat twee beweerde oortreders wat na bewering koperkabels gesteel het, in hegtenis geneem is. Die eienaar van die eiendom, Pieter Vorster, sê hy het inligting gekry dat daar probleme by die gebou is en het gevra dat die NCA ’n ogie hou.
Lombard sê drie geboue langs mekaar in Charlotte Maxetestraat word die afgelope tyd geplunder en vermeende inbrekers vlug oor die dakke as daar iemand opdaag.
In ’n onlangse voorval van gewapende roof het twee mans Donderdag om 17:28 by Heathorn’s Diamond & Gold by Northridge Mall ingestap en ’n handwapen getoon. Daar was een winkelassistent. ’n Derde vermeende rower het daarna die vertoonkaste oopgebreek en goud en diamante in ’n sak gegooi en die drie het gevlug. Niemand is in die voorval beseer nie.
Melanie Heathorn sê die saak word deur die polisie ondersoek. “Ons wil net vir die SAPD en alle ondersoekbeamptes asook die bestuur van PHG bedank vir hul vinnige optrede in die verband,” sê sy.
Sers. Wendy Nkabi, polisiewoordvoerder sê die rooftog by Northridge is by die Bayswater-polsiekantoor geopen en geen inhetenisdames is nog gemaak nie. Dit is ook nie bekend hoeveel verdagtes betrokke is nie. Die saak word ondersoek.
* Rowers het op Vrydag 24 Junie om 20:20 toegang tot Mimosa Mall verkry en die winkel Options beroof. Geen skote is in die voorval gevuur nie en niemand is in die voorval beseer nie, hoewel omstanders van hul besittings beroof is. Niemand is nog in verband met die rooftog in hegtenis geneem nie en die saak word deur die Parkweg-polisiekantoor ondersoek.
* Nog ’n saak van inbraak is by die Navalsig-polisiekantoor geopen ná ’n inbraak by die Laerskool Bloemfontein Sondag (10/07). Nkabi bevestig dat ’n skootrekenaar, witbord en beskermende skoene alles ter waarde van R26 000 gesteel is. Niemand is inhegtenis geneem nie.