Modelle vir talent vereer

V-Models se jaarlikse jaareind-modeparade en prysuitdelingsgeleentheid is Vrydag (09/12) by Slightly Nutty aangebied.


V-Models se jaarlikse jaareind-modeparade en prysuitdelingsgeleentheid is Vrydag (09/12) by Slightly Nutty aangebied.

Die tema vir dié geselligheid is deur Franse flair geïnspireer en ontwerpe deur plaaslike mode-ontwerpers is vertoon. Die uitrustings is gemaak deur Mendylu Fashion Design, Jansen & Jordan, Dolz Clothing en Unexpected Fashion House (UFH).

Twee van V-Models se modelle, Serena Donachie en Dai-Lynn Finnis, wat as die Face of South Africa 2022 gekroon is, was die seremoniemeesters.

Arthur Browne, besturende direkteur, sê so ’n aand gaan oor meer as net modelle op ’n loopplank.

“Dit gaan oor ander talente wat hulle vertoon en hoe ons hulle help sodat die regte mense hulle raaksien – nie net as ’n mooi gesig nie, maar as ’n individu met vele talente.”

Verskeie pryse is aan modelle toegeken na aanleiding daarvan of hulle fotogenies, op die loopplank of in skoonheidskompetisies uitgeblink het, en spesiale eerbewyse is ook toegeken.

Die toppryse het gegaan aan Lyia Fourie, senior V-Model van die jaar; Jurgens Smith, manlike V-Model van die jaar; Iliana Stevens en Monet Meyer, gesamentlik V-Models se tiener-model van die jaar; en Ayola Blom, pre-tienermodel vir 2022.

Browne sê dit was ’n baie suksesvolle jaar.

“Ek kan nie trotser wees op elke model en hul prestasies nie.”

Sewe van V-Models se modelle wat van 29 September tot 1 Oktober aan die International Arts Talent Showcase (IATS) in Krugersdorp deelgeneem het, is genooi om na New York te gaan.

Ayola Blom, Cayden Wee en Masego Checha is teruggeroep vir modelwerk, Tegan Botes is teruggeroep vir modelwerk en dans, terwyl Rethabile Semthe, Iliana Stevens en Tiago Jardim teruggeroep is vir modelwerk en drama.

Honderde mode- en talentagente, persoonlike bestuurders, rolverdelingsregisseurs, verteenwoordigers van netwerke en musiekregisseurs woon in Julie die Internasionale Model en Talentvereniging (IMTA) se talentsoekwerksessie in New York by waarheen die modelle genooi is.

Browne is as talentsoeker van IATS in die Vrystaat aangestel.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.