Modeparade bemagtig vroue

Die modeparade wat Saterdag (01/10) by Bloemshelter aangebied is, is die belowende begin van ’n goeie samewerkingsverhouding tussen dié organisasie en Solidariteit Helpende Hand se Ons Winkel.


Die modeparade wat Saterdag (01/10) by Bloemshelter aangebied is, is die belowende begin van ’n goeie samewerkingsverhouding tussen dié organisasie en Solidariteit Helpende Hand se Ons Winkel.

Só sê Heidi Morgan, bestuurder van Bloemshelter, oor die oggend wat deur sowat 60 gaste bygewoon is.

Ses inwoners van die skuiling het elk gemaklike drag, kantoordrag en aanddrag op die mode­parade van Ons Winkel vertoon.

Hulle het ook dié klere wat hulle vertoon het, as geskenk ontvang.

Morgan sê die plan is om die klere wat Ons Winkel van skenkers ontvang, te was voordat dit op die rakke geplaas word.

“Ons moet nog ’n geskikte perseel kry waar ons die klere kan was en stryk. Dit is ’n goeie geleentheid om vir die vroue sekere vaardighede te leer,” sê sy.

By Bloemshelter is dit hul droom om die vroue, wat almal uit moeilike omstandighede kom, te bemagtig om die skuiling te verlaat met meer kennis as toe hulle daar aangekom het.

“Dit is ons droom om met verskillende organisasies hande te vat om voordeel vir almal te skep en vir die vroue van Bloemshelter geleenthede te bied.”

Die skuiling bedryf elke Vrydag sy eie tweedehandse klerewinkel, waar alles wat nie deur die inwoners self benodig word nie, ten behoewe van die skuiling verkoop kan word.

“Dit bied nie net voordeel aan die skuiling nie, maar ook vir inwoners in die omgewing wat hier teen billike pryse klere en ander benodigdhede kan koop. Ons sien dit as ons diens aan die gemeenskap.”

Morgan sê al hierdie projekte is deel van die doelwit om vroue vaardighede te leer om makliker werk te kry en ’n nuwe toekoms in te gaan.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.