‘Moeder’ van basaars gehou

Kerke in die suide van Bloemfontein gaan Vrydag (29/07) vir ’n unieke basaar saamtrek waar mense heerlik kan kuier en hulle in egte basaargeregte verlustig.


Kerke in die suide van Bloemfontein gaan Vrydag (29/07) vir ’n unieke basaar saamtrek waar mense heerlik kan kuier en hulle in egte basaargeregte verlustig.

Dr. Enrico Caseleggio van die NG kerk Fichardtpark sê verskeie gemeentes het ingestem om oor kerkgrense heen ’n byeenkoms te hou.

“Dit gaan die moeder van alle basaars wees,” sê hy. “Wat is ’n basaar sonder pannekoek? Dit kan bisar wees!”

Caseleggio sê elke gemeente sal ’n unieke gereg of produk verkoop waarop hulle alleenreg het.

Daar sal byvoorbeeld ’n tafel met vars vleis wees en een wat vlakvark-salami’s verkoop.

“Die publiek kan kom smul aan ’n Argentynse potjie, kerrie-en-rys, stokwors, slap tjips, sosaties, koeke, terte, vetkoek, worsbroodjies, verskillende hamburgers, basaarpoeding en jafels.”

Om die keel nat te maak sal talle keuses daarvoor beskikbaar wees.

Die jongklomp kan hulself met onder meer skyfskiet, gelukspakkies, ’n tombola-tafel, ’n springkasteel, gesigverf, poppekas, pom-pom-meisies en dansers vermaak.

Die Teraphea Volle Evangelie Kerk in Christus, die Hervormde Kerk Bloemfontein-Wes, die Gereformeerde Kerk Bloempark, die NG kerk Fichardtpark, Fichardtkruin, Fauna, Pellissier, Leeuwberg, Brandfort, Bloemfontein-Wes, Universitas Geloofsentrum, Gardeniapark en Uitsig, is deel van die basaar wat vanaf 15:00 by Alto­napark in Altonasingel in Fichardtpark begin.

“Hierdie is ’n historiese geleentheid. Nog nooit tevore het so baie kerke saamgewerk aan ’n basaar nie,” sê Casaleggio.

“Kom wees deel daarvan. Ons is oortuig dat dit deur die genade van die Here so ’n geseënde geleentheid gaan wees, dat ons dit volgende jaar weer gaan aanbied.

“Dit is egter altyd lekker om te kan sê: ‘Ek was met die eerste een al daar’.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.