Ondanks verkoue wat haar effens olik laat voel, gaan dit goed met Janique Venter (7) wat verlede week ’n groot operasie ondergaan het in ’n hospitaal in Memphis, Tennessee, waar ’n gewas uit haar nek gesny is.
Janique se ouers, Nadine Mukheibir en Jacques Venter, wat by hul dogter waak, het wel geskrik toe Janique ’n dag ná die operasie op Woensdag 29 Januarie ’n noodoperasie in die St. Jude-hospitaal moes ondergaan weens swelling. Dit gaan nou egter goed met dié klein vegtertjie.
Die familie het in Desember gehoor dat spesialiste in Memphis kans sien om die tumor in haar nek te verwyder.
Die spesialiste het op Dinsdag 28 Januarie Janique se regterslagaar permanent afgebind sodat dit nie aan die bloei sal gaan wanneer hulle die tumor verwyder nie.
Janique het dus verlede week drie operasies ondergaan.
Nadine sê Janique het Sondag regop in die bed gesit en ’n prentjie geverf. Sy is Maandag uit die hoësorgeenheid na die kindersaal in St. Jude’s oorgeplaas.
Sy sê haar dogter kry steeds pynmedikasie en is naar weens ’n verkoue, maar sy word elke dag beter.
Janique is op ses maande met neuroblastoom gediagnoseer – ’n kwaadaardige gewas het aan die regterkant van haar nek gegroei.
Twee jaar gelede het dokters bevestig dat die gewas na ’n nie-kwaadaardige ganglioneuroom verander het, maar dit het steeds druk op haar lugpyp veroorsaak.
Sy het ’n traggie nodig gehad om haar te help asemhaal.
Dit is onseker hoe lank die gesin nog in Memphis moet bly.
Dewald Fourie van The Pace Foundation, wat ’n deel van die geld ingesamel het waarmee die gesin na Amerika kon gaan, sê daar is behoefte aan geldelike steun terwyl die gesin daar is.
Mense wat op dié manier kan ondersteun, kan The Pace Foundation op Facebook besoek vir meer inligting.