Vroeër vanjaar was dit die kleine meermin wat die gehoor bekoor het, maar in November wag daar nog pret en plesier met Xander Steyn se vertoning Beauty and the Grinch.
The Rabbit Studio bring tweemaal ’n jaar een van Xander se produksies op die planke.
Hy herskryf sprokies en ander verhale en maak dit sy eie met kwinkslae en onvergeetlike karakters.
Die verskillende ouderdomsgroepe van die studente aan sy teaterskool kry elk hul eie beurt op die verhoog.
Die twee laerskoolgroepe is dié Saterdag 4 November aan die beurt, terwyl die hoërskoolgroepe Vrydag om 19:00 en Sondag om 16:00 optree.
Die hoofvertonings van Beauty and the Grinch, met die volwassenes, vind op Donderdag 9 November om 19:00 en Sondag 11 November om 13:00, 16:00 en 19:00 plaas.
In dié vertoning vertolk die sanger Jacobus Silwer die rol van Gaston. Xander sê Jacobus is perfek vir die rol as die “boertjie”, Gaston.
Beauty and the Grinch
vertel die verhaal van ’n aantreklike prins wat selfsugtig en onvriendelik is en in die monster Grinch verander. Die Grinch moet leer om lief te word vir ander, met die fokus daarop dat skoonheid eintlik van binne kom.
“Ons leef in ’n wêreld waar sosiale media geluk as perfek voorhou. Om op ’n sekere manier te lyk en om ’n spesifieke soort mens te wees,” sê Xander oor die toneelstuk.
“Ek probeer altyd ’n subtiele lewensles in my stories inbou. Soos altyd gaan die vertoning vol mal karakters en opwinding wees.
“Die gehoor kan grootse kostuums en oomblikke van skaterlag verwag.”
Kaartjies is beperk en kos R120 op rabbithouse.co.za.
Kinders van vier jaar en jonger wat op hul ouers se skoot sit, kry gratis toegang.
Soos altyd gaan die vertoning vol mal karakters en opwinding wees. Die gehoor kan grootse kostuums en oomblikke van skaterlag verwag. – Xander Steyn