Paartjies het nog tot einde Julie tyd om hulle vir Bloemnuus se Troufoto van die Jaar-kompetisie in te skryf.
April se wenfoto is dié van Lizelle en Jason Botha, wat op 27 November in Bloemfontein getroud is.
Die algehele wenner van die kompetisie word in Augustus aangewys, met die wenpaartjie wat na ’n naweek se verblyf by De Oude Kraal-gasteplaas kan uitsien. Stefan van Biljon van die maatskappy Creative Kilowatt borg die prys.
Paartjies wat in Bloemnuus se lesersgebied woon en sedert Augustus 2021 getroud is – of nog in die volgende paar maande gaan trou – kan hul mooiste foto inskryf.
Foto’s moet van ’n goeie gehalte wees, maar hoef nie deur ’n professionele fotograaf geneem te wees nie.
Met toestemming van die bruidspaar kan fotograwe ook foto’s van paartjies inskryf.
Net een foto in jpeg-formaat kan per bruidspaar ingeskryf word. Die inskrywing moet die paartjie se name en van bevat, asook die troudatum en die naam van die stad of dorp waar die troue gehou is.
Paartjies kan hulle inskryf deur die foto en inligting na bloemnuus@media24.com te stuur, met “Troufotokompetisie” in die boodskapveld.
Al die inskrywings sal in Augustus in ’n galery op Bloemnuus se Facebook-blad verskyn.
Die 12 foto’s wat die meeste stemme ontvang, sal in Bloemnuus gepubliseer word.
Die wenfoto, wat uit dié foto’s gekies sal word, sal op Bloemnuus se voorblad pronk.
Tot Julie sal ’n wenner elke maand aangewys word, en die paartjie se foto sal saam met die berig in Bloemnuus gepubliseer word. Al die inskrywings vir April verskyn op Bloemnuus se Facebookblad.
- Creative Kilowatt bied klank, verhooggeriewe, atmosfeerbeligting en oudiovisuele aanvullings vir troues, partytjies en korporatiewe gesellighede. Die span beskik oor ’n musieklys van die nuutste treffers tot ou gunstelinge.