Moorde: hof hoor geld vloei na 2 se rekeninge

Geld afkomstig van die vermoordes het glo na die bankrekeninge gevloei van die twee beskuldigdes wat na bewering verantwoordelik was vir die grusame moorde op drie mense by die Byenes-dagsorgsentrum in Wilgehof, Bloemfontein.


Geld afkomstig van die vermoordes het glo na die bankrekeninge gevloei van die twee beskuldigdes wat na bewering verantwoordelik was vir die grusame moorde op drie mense by die Byenes-dagsorgsentrum in Wilgehof, Bloemfontein.

So het die streekhof in Bloemfontein Maandag gehoor toe Katlego Ronald Moroe (23) en Mpheng Anna Nts’oeu (28), ’n burger van Lesotho, vir die eerste keer in die hof verskyn het.

Die twee staan tereg op die moorde sowat 14 maande gelede by die dagsorgsentrum, waar Nts’oeu betrokke was by die daaglikse versorging van die sowat 60 kinders.

Sy het ’n maand voor die moorde bedank.

Die erg verrinneweerde en bebloede lyke van Betsie Kruger (66), haar dogter, Janine Theron (35), en skoonseun, Christo

Theron (36), is die oggend van 29 Junie verlede jaar in ’n slaapkamer by die dagsorgsentrum gekry nadat hulle vermoedelik reeds die vorige aand vermoor is.

Kruger, eienaar van die dagsorgsentrum, was ’n geliefde inwoner van Wilgehof wat 40 jaar lank by kindersorg betrokke was.

Die huis se deur moes oopgebreek word nadat Christo, wat by Vrystaat Landbou gewerk het, nie die oggend vir werk opgedaag het nie. Voorheen is berig hy het die sleutels van sy werkplek by hom gehad.

Toe hy nie sy selfoon beantwoord het nie, is iemand na Byenes gestuur om na hom te gaan soek.

Nadat die huis oopgebreek is, is gevind dat die TV-stelle in sowel die kamer waar die moorde gepleeg is as in die sitkamer die oggend luid aan was. Die kamer was in ’n warboel, met die klere wat uit die laaie gepluk is en op die bed gelê het.

Aan die een kant van die dubbelbed het die Theron-egpaar aanmekaar vasgebind en dood gelê en aan die ander kant was Kruger se erg verminkte lyk.

Die aanklagte teen albei beskuldigdes is drie van moord, twee van geweld teen vroue en een van roof met verswarende omstandighede. Nts’oeu word ook ingevolge die Immigrasiewet aangekla omdat sy glo onwettig in die land is.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.