Die uitvoerende burgemeester van die Mangaung-metro in Bloemfontein moet vandeesweek drie mosies van wantroue trotseer.
Die DA, Economic Freedom Fighters (EFF) en die Afrikan Alliance of Social Democrats (AASD) het die mosies teen Mxolisi Siyonzana ingedien. Die mosies is op die agenda vir vandag (12/05) se raadsvergadering.
Johan Pretorius, DA-koukusleier, sê dié party gaan Siyonzana aanvat oor alles wat in sy termyn as uitvoerende burgemeester verkeerd gegaan het sedert hy in Augustus verlede jaar aangestel is.
“Ons gaan hom aanvat oor die aanstelling van politieke personeel in sy kantoor. Hy het op nasionale TV erken dat 74 mense in ’n stadium in sy kantoor gewerk het omdat daar sewe dorpe onder die metro val.
“Selfs met die geldelike krisis waarin die metro hom bevind – met krediteure wat nie betaal is nie, hofsake, Bloemwater-skuld en die enorme salarisrekening van die metro – het Siyonzana glo instruksies gegee dat die politieke personeel aangestel moet word.”
Hy sal ook moet verduidelik oor die aanstel van ’n stadsbestuurder, sê Pretorius.
“Siyonzana het nooit ’n verslag met al die aansoekers se name vir die raad gegee nadat die pos geadverteer is en ’n kortlys deur ’n verkose paneel saamgestel is nie.
“Hy is op ’n raadsvergadering van 8 Desember gevra om die pos van stadsbestuurder te adverteer. Die raad is egter in Maart op ’n raadsvergadering ingelig dat hy nie daarmee kon voortgaan nie omdat die tydperk verstryk het vir die prosesse wat gevolg moes word soos deur wetgewing voorgeskryf. Die hele aanstellingsproses moes van voor af begin.”
’n Klomp van die departementshoofde se kontrakte het aan die einde van Maart en April verstryk, en die proses om dié poste te adverteer het ook nog nie begin nie. Die geldelike gevolge hiervan sal enorm wees en die ouditeur-generaal (OG) sal dit weer as verkwistende uitgawes klassifiseer, sê Pretorius.
Hy meen Siyonzana is nie vir die amp van uitvoerende burgemeester geskik nie. Die DA gaan hom ook oor die onstabiliteit in die munisipaliteit en metroraad aanvat, en oor die feit dat hy “ ’n verleentheid” was met die onlangse besoek van ’n parlementêre toesigkomitee van die departement van samewerkende regering en tradisionele sake. Hy het weggebly van hul besoek aan Dewetsdorp en Wepener, waar die rioolaanlegte reeds langer as vyf jaar onklaar is.
Pretorius sê die DA gaan versoek dat ’n leefstyloudit op Siyonzana gedoen word. Die party is vol moed dat die mosies kan slaag, gegewe dat daar 26 DA-raadslede is, 12 van die EFF en twee van die AASD.
“Ons vermoed dat die twee raadslede van die VF Plus, asook die een van die ACDP, ons ook gaan ondersteun.”
Dan kort nog agt stemme van ander opposisiepartye en die ANC om die mosies te laat slaag.
Hy glo Stefani Lockman-Naidoo, die speaker, sal ’n geheime stemming toelaat.
Baba Sebolao, EFF-koukusleier, sê die party is van mening dat dit hoog tyd is om dié mosies in te dien.
Pappie Mokoena, AASD-koukusleier, is opgewonde oor die raadsvergadering waarop raadslede Mangaung kan “terugeis”.
“Ons veg vir die inwoners van Mangaung en hoop dat daar genoeg raadslede is wat die moed het om vir die inwoners van Mangaung te veg.”
- Siyonzana is drie keer om kommentaar genader, maar kon nie bereik word nie.