Lesers van oor die sentrale deel van Suid-Afrika heen kan uitsien na ’n opwindende kompetisie waarin een ’n splinternuwe Suzuki S-Presso kan wen.
Engo se Projek van Hoop, waardeur geld vir dié instansie se bedrywighede ingesamel word, is Woensdag (27/04) op Bloemskou bekend gestel.
Die Covid-19-pandemie het wel twee jaar van projek-droogte veroorsaak, maar Engo Vrystaat is opgewonde oor die geleentheid om dié projek met die viering van Engo se 120ste bestaansjaar aan te bied.
Engo se Projek van Hoop word in samewerking met Sentraal24 (waarvan Bloemnuusdeel is), NTT Suzuki Bloemfontein en Radio Rosestad aangebied en verteenwoordig ’n nuwe formaat van die bekende Vir ons Kinders-projek wat vir tien jaar agtereenvolgens suksesvol aangebied is.
’n Splinternuwe Suzuki S-Presso GL Plus ter waarde van R165 000 kan gewen word. Kaartjies om vir hierdie prys in aanmerking te kom kan gekry word deur ’n skenking van minstens R30 te doen. Vir elke R30-skenking, kwalifiseer die skenker vir een kaartjie en een kans om hierdie voertuig te wen.
Engo het 67 verskillende sentrums, huise en kantore oor die Vrystaat heen wat by die projek gaan baat. Kinders, bejaardes, gesinne, behoeftiges in verskillende gemeenskappe, gestremdes, siek mense in hospitale en mense wat graag kinders wil aanneem of laat aanneem, sal voordeel trek uit die spesiale projek.
Die projek strek oor vyf maande en die sluitingsdatum is 30 September.
Die vyf finaliste wat die kans sal staan om die Suzuki S-Presso GL Plus te wen, word ná ’n trekking op 27 Oktober aangekondig.
Evolve Audit and Advisory sal die proses oudit. Die wenner word op 15 November aangekondig.
Hou gerus Bloemnuusen Engo en Bloemnuusse sosialemedia-inskrywings dop vir geleenthede waarop kaartjies verkry kan word.
Kaartjies kan vandeesweek op Bloemskou by Engo se stalletjie in die Proteasaal bekom word. Die skou duur nog tot Saterdag 7 Mei.
Deur Engo met hierdie groot projek te ondersteun kan weldoeners ’n positiewe verskil bring in die lewe van meer as 200 000 mense wat jaarliks deur Engo se dienste geraak word.
- Kaartjies kan ook aanlyn bekom word by engo.co.za. Rig navrae oor die projek deur 060-548-5543 te skakel.
Die Suzuki S-Presso GL Plus met ’n klein, maar oulike, voorkoms as sportnutsvoertuig, is een van die beste keuses op die mark as dit by waarde vir geld kom.
Dié motor sal onder meer die volgende aan die gelukkige wenner bied:
- ’n 1.0 liter-enjin;
- elektriese ruite voor;
- ’n raak-inligtingskerm met tru-kamera;
- Apple CarPlay en Android Auto;
- Bluetooth-funksies;
- AUX/USB-verbinding;
- lugversorging;
- ABS-remme;
- bykomende beperkingstelsel-lugsakke (SRS-lugsakke) voor;
- 239 liter-bagasieruimte; en
- ’n outomatiese sentrale sluitstelsel.
Met boonop petrolverbruik van slegs 4,9/100 km en ’n ruim en moderne binneruim, is die Suzuki S-Presso GL Plus ’n motor wat sonder enige twyfel sommer baie kaartjies werd is.