Dit is vanjaar die 36ste keer dat die OVS Veteraanmotorklub, wat vanjaar sy 60ste bestaansjaar vier, die Cars in the Park-geleentheid aanbied.
Dié klub is in 1965 in ‘n hotel in Bloemfontein gestig, deur ses klassiekemotor-entoesiaste.
René Greenland van die Veteraanmotorklub sê motors wat 20 jaar en ouer is, word by die klub verwelkom, en die idee is om hulle so oorspronlik soos moontlik te hou.

Lede neem deel aan maandelikse ontbytritte; “garage hop”-geleenthede om na lede of ander klubs se motors te gaan kyk; klubbraais; en dan stiptheidstoere, met lede wat jaarliks aan die nasionale Rendezvous-toer in Oktober deelneem.
Om die klub se 60ste bestaansjaar te vier, sal vanjaar op Cars in the Park by die Martie du Plessis-skool ‘n uitstalling wees van motors wat in 1965 vervaardig is en dus ook 60 jaar oud is.
Daar gaan, soos gewoonlik, ‘n groot verskeidenheid te sien wees: van die ou veterane tot nuwe motors; die Harley-Davidson-motorfietsklub en die trekkerklub gaan ook weer uitstal; asook ‘n verskeidenheid handwerk- en ander stalletjies.
Vanjaar word ook ‘n uitstalling deur die Bfn-sweeftuigklub gebied.
Altyd gewild is die speelgoedskou, of “toy fair”, wat deur die Bfn-modelmotorklub in die skoolsale aangebied word. Besoekers kan hier kom kyk na modelmotors, poppe, modeltreintjies en figuurtjies.
Kosstalletjies te kies en te keur, asook iets om die dors te les, kan verwag word.
Die hekke open op Donderdag 1 Mei om 09:00 vir die publiek en volgens beplanning sal die geleentheid tot 14:30 duur.
Toegang kos R50 per volwassene, en skoolgaande kinders betaal R20.
Koop kaartjies by alle C & F Motor Spares-takke – elkeen wat hier ‘n kaartjie koop, staan die kans om groot pryse te wen. Gelukstrekkings word op die dag van die geleentheid om 12:30 by die C & F Motor Spares-stalletjie gedoen om wenners aan te wys.
Kaartjies is ook by die hek te koop, en kaartgeriewe sal hier beskikbaar wees.
Rig navrae aan René Greenland by 073 308 0827.
You must be logged in to post a comment.