Brandstofpryse styg vanaand tot meer as R25 per liter.

Foto: Unsplash

Bloemfonteiners sal van middernag af ongeveer R26,64 vir 93-oktaan petrol betaal.

Vir die soveelste maand in ’n ry sal vuisvoos verbruikers eenvoudig net meer moet opdok wanneer hulle brandstof ingooi.

Motoriste sal hulle vandag (05/07) moet haas na vulstasies om brandstof in te gooi voordat ’n verdere hoë tariefverhoging om middernag in werking tree.

Die meer as R25 per liter wat verbruikers oor die land heen vir brandstof gaan opdok, is bykomend tot hoë winterkragtariewe.

Dit is die meeste wat verbruikers nog ooit vir brandstof in Suid-Afrika betaal het. Die prysaanpassing wat die departement minerale en energie Maandag (04/07) aangekondig het, sal neerkom op R2,57 meer vir 95-oktaan petrol en R2,37 meer vir 93-oktaan petrol.

Dr. Wynand Boshoff, hoofwoordvoerder vir minerale hulpbronne en energie vir die VF Plus, sê Suid-Afrika se energiekrisis het ontaard in ’n ekonomiese ramp.

“Suid-Afrikaners is nou vir oorlewing afhanklik van elektrisiteit wat nie beskikbaar is nie en vloeibare brandstof wat onbekostigbaar is,” sê hy in ’n nuusverklaring.

Boshoff sê te midde van fase 6-beurtkrag het landsburgers Maandag gehoor van nog ’n skerp styging in petrol en diesel.

Hy sê asof duur brandstof nie genoeg is nie, benodig veral ondernemings duisende liter brandstof vir kragopwekkers wanneer beurtkrag vir ure lank ingestel word.

Boshoff sê die enigste mense wat die energiekrisis vryspring, is huishoudings en ondernemings wat hulself ten volle of gedeeltelik van konvensionele energiebronne bevry het met sonkrag- en batterystelsels of die gebruik van gas.

Die DA het Maandag ’n wetsontwerp vir die deregulering van die prys van brandstof by die parlement ingedien.

Die wetsontwerp vra die aanpassing van die wet op petroliumprodukte wat aan die regering die reg gee om pryse vir petroliumprodukte voor te skryf.

You need to be Logged In to leave a comment.