Die Vrystaatse Veteraanmotorklub het ’n geselligheid aangebied om die suksesvolle Cars in the Park-geleentheid wat op 1 Mei by die Martie du Plessis-skool aangebied is te vier.
René Greenland van die motorklub het op die geselligheid, gehou op 18 Mei in die klubhuis by die Bloemfontein-rolbalklub, gesê 2023 se Cars in the Park wat in samewerking met die Bloemfonteinse Modelmotorklub aangebied is, was ’n reuse-sukses.
Die klub het besluit om aan drie begunstigdes geld te oorhandig uit die toegangsgeld wat tydens Cars in the Park betaal is.
Die eerste skenking is gedoen aan die Martie du Plessis-skool, wat weer die gasheer vir hierdie geleentheid was.
Francois van Heerden, hoof, het die skenking namens die skool in ontvangs geneem.
Die Lettie Fouché- spesiale skool het ook ’n skenking ontvang. Dit is deur die hoof, Alexander Jordaan, in ontvangs geneem.
Die derde begunstigde wat op die geselligheid ’n skenking ontvang het, is Martin Botes.
Botes, ’n werktuigkundige van beroep, is in Desember met Guillian-Barré-sindroom gediagnoseer. Hy is in die hospitaal opgeneem en sedertdien ontslaan, maar kon nog nie voortgaan met sy werk nie en sy herstelproses is stadig.
Greenland sê omdat Botes ’n vriend van die klub is, is daar besluit om hom vanjaar een van die begunstigdes te maak.


