Piskriek, Bloemfontein se blou liefdesbussie, is eintlik ’n nagkarweier van studente met ’n botteltjie vroetelsap agter die blad.
Dié klein Suzuki-paartiebussie het aandag getrek toe sy Maandag (02/05) by die Bloemnuus Cars in the Park-uitstalling in die daglig kom oë wys het.
Die Suzi het oë, ja: Sy spog met lang wimpers oor die kopligte.
Dit is Chandré Cilliers en sy pa, Charl, se bussie, wat berug is vir vroetelritte.
Die saamtrek vir ou én nuwe voertuie by die Martie du Plessis-skool trek elke jaar duisende geesdriftiges.
Soos elke motor het Piskriek ’n storie om te vertel.
Sy het nie sitplekke nie, maar ’n paar kussings waarop die gaste hul lê kry.
Ouers kyk liefs weg as hulle dié blou broodjie op wiele sien, want tieners is tieners.
“Advisory. Unless you’re a BABE, don’t touch my car,” lui ’n plakker teen die kant.
Sy is vol hippie-blomme teen die bakwerk en plakkers soos dié een op die agterste venster: “One life, live it.”
Chandré sê hulle het Piskriek as toerbussie ingerig vir matriekafskeidgesellighede en vir nagritte deur die stad om “die liggies te kyk”.
Die bussie het baie liggies en ’n groot klankstelsel.
Langs die Suzi het ’n kêrel sy bier op die enjin van ’n bloedrooi 1974-Datsun 270z se enjin gesit wat met die klap oop staan en luier.
“Kyk hoe stil loop hy, pappie. My skoonpa het só ene gehad.”
Die Merc-eienaars se toegewese ruimte was eenkant weg van die plebs met hul warm motors.
’n Mooi 1984-Mercedes-Benz 280SE met ’n sondak is vir R139 000 te koop aangebied. Uit die dae van die Afrikaner se bloeitydperk.
Oom Frik Kriel (73) het oë vir net een soort motor – die Britse weelde-wa. Hy het drie Jaguars kom vertoon: Sy goue 420 C wat van 1969 dateer, die breedste en grootste Britse motor van sy tyd met ’n 4,2 liter-enjin.
Dit draf 7,5 km op ’n liter brandstof. Nie te sleg vir só ’n groot Brit nie.
Vir oom Frik is dit die rit wat saak maak, nie hoe dors hy is nie.
“Oe jong, hy loop lekker. Hy het onafhanklike vering in. Ja-nee, hy loop sag.”
Agter die goue Jag staan ’n spierwit 1955-Mark VII en op sy stert is ’n bloedrooi 1960-Mark II.
Sy tweede motor was só ’n 1966-Mark II, sê hy.
“Ek was nog nooit weer sonder ’n Jaguar gewees nie.”
’n Blinknuwe Ford Mustang GT500 het baie petrolkoppe laat draai. Net daardie 5 liter-V8-enjin se geluid laat manne se oë fladder.
Totdat hulle onbewustelik na hul beursie voel en dankie sê oor hulle nie vanaand die blink motor se tenk hoef te gaan vol maak nie.