Motors uit toentertyd en speelgoed pronk

Hope pryse, speelgoed, pragtige motors en vele meer is op die vakansiedag op Maandag 1 Mei te sien op die Cars in the Park by die Martie du Plessis-skool.


Hope pryse, speelgoed, pragtige motors en vele meer is op die vakansiedag op Maandag 1 Mei te sien op die Cars in the Park by die Martie du Plessis-skool.

Die Bloemfontein Modelmotorklub span vanjaar weer saam met die Vrystaatse Veteraanmotorklub om ’n heerlike gesinsdag vir oud en jonk te bied.

René Greenland, organiseerder van Cars in the Park, sê dit is vanjaar die 34ste jaar waarop dié geleentheid deur die Vrystaatse Veteraanmotorklub aangebied word.

“Daar sal vanjaar ’n verskeidenheid motors op die skou wees. Ons vier onder meer die 100ste bestaansjaar van die Triumph-motor en die 50ste van die Chevrolet Can-Am.”

Greenland sê dit gaan ’n heerlike familiedag wees waarop daar nie net motors nie, maar ook trekkers en motorfietse te sien gaan wees. “Daar gaan ook kos-stalletjies wees en stalletjies wat handwerk verkoop sowel as pret vir die kinders.”

Saam met modelmotors, gaan die Bloemfontein-Poppeklub ook vanjaar die mooiste poppe vertoon. Daar sal ook miniatuur-figuurtjies van karakters uit TV- reekse en rolprente tot karakters uit videospeletjies en kinderstories te sien wees.

Kom loer gerus na die gesogte reeks strokiesprentboeke (comics). Jacques Pretorius, organiseerder van die speelgoedskou, sê die sale is reeds volbespreek met allerlei uitstallers en gaan beslis ’n gewilde bestemming wees tydens die dag. “In ’n tyd waar selfone en rekenaarspeletjies oorneem, en e-boeke gewild is, is dit soms nog lekker om fisiek met n speelding te speel of ’n regte strokiesprent te lees. Baie van die speelgoed, hetsy poppe of karretjies, kan etlike duisende rande kos en is spesifiek op versamelaars gemik. Verlede jaar was daar ’n modelmotortjie wat R15 000 gekos het,” vertel hy.

Martie du Plessis is weer die hoof-begunstigde van die dag. Die Veteraanmotorklub het ook be- sluit om die motor-entoesias, Martin Botes wat in Desember met Guillain Barre-sindroom gediagnoseer is, ’n begunstigde te maak vir dié dag.

Cars in the Park en die speelgoedskou begin om 08:00 en duur tot 15:00.

Toegang by die hekke is R40 vir volwassenes, kinders betaal R10 en toegang vir kinders jonger as 10 jaar is gratis. Dit is ’n geleentheid wat ook saamval met Bloemskou van 27 April tot 6 Mei en bied die perfekte geleentheid vir mense wat Bloemskou bywoon, om ook by dié pret-geleentheid te kom inloer.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.