’n Uitstalling van onder meer modelmotors sal in Augustus op die Nuts about Wheels-speelgoed-en-motor-ekspo te sien wees.Foto: Lientjie Mentz


’n Uitstalling wat alle motor-geesdriftiges baie gaan geniet, word op Saterdag 6 Augustus by die Martie du Plessis-skool aangebied.

Die Bloemfontein-model­motorklub bied die Nuts About Wheels-speelgoed-en-motor-ekspo aan.

Jacques Pretorius van dié klub sê daar gaan ’n groot verskeidenheid motorverwante uitstallings te sien wees.

“Mense sal kan kom kyk na super cars, hotrods, viertrekvoertuie en die nuutste modelle van motors.”

Pretorius sê ’n hele paar handelaars van speelgoed en klein motortjies het al laat weet dat hulle op die ekspo kom uitstal.

Motorhandelaars sal motoruitstallings by die skou aanbied.

“Die Bloemfontein-model­motorklub gaan ook ’n uitstalling van lede se modelmotortjies in die hoofsaal by die skool hê,” nooi Pretorius mense om ná die deel van die ekspo te kom kyk.

’n Uitstalling van modeltreintjies sal boonop te sien wees.

“Vir die kinders sal daar hope pret wees, so bring hulle saam.”

’n Biertuin, asook die skool se koffiewinkel, sal daardie Saterdag oop wees.

Mense wat private motors op die ekspo wil uitstal, kry een gratis kaartjie.

Die ekspo begin om 08:00 en duur tot 14:00. Kaartjies is by die hek te koop.

Toegang kos R30, en R10 vir kinders jonger as 12 jaar.

Rig navrae oor die ekspo per WhatsApp-boodskap na 084-381-7122.

You need to be Logged In to leave a comment.