“As al die mense slaap en dis doodstil in die huis. IN DIE HUIS!”
Jammer, as jy nie die liedjie ken nie: Dit is op die wysie van “Under the boardwalk”. Maar baie meer uitbundig aan die einde, soos die hoofletters tereg weergee.
Net sowat twee weke gelede op ’n pikdonker (danksy beurtkrag) aand op Doornkloof, leer twee mans vir ’n groep gr. 5-kinders dié oulike liedjie.
“Is al geluid wat jy hoor die gepiep, piep, piep van ’n muis. VAN ’N MUIS!”
En net hier moet ek giggel.
Jip, miskien het ek nie my huis se muis gesien nie. Maar hy (wel, óf sy óf hulle) was daar. Vir lank.
Elke huis het mos maar die een of ander tyd ’n ongewenste besoeker. ’n Spinnekop, ’n kokkerot, ek het selfs al gehoor van ’n likkewaan in die dak.
’n Muis val beslis onder die ongewenste inwoners wat so goed wegkruip. Wel, ek het beslis nooit ’n gepiep, piep, piep gehoor nie.
Net die bewyse – en regtig baie daarvan.
Voor die Doornkloof-kamp saam met die klomp vrolike Voortrekkerkinders, het een muis op ’n Sondagmiddag kom oë wys. Ek moet bieg, ek het geslaap en die petalje nooit aanskou nie. Die muis se lewe het daardie Sondag tot ’n einde gekom. Iewers naby die asblikke waar hy heel waarskynlik vandaan kom.
Ek het gedink ons dae van muisbesoekers is verby. Maar nee! Skielik was die bewyse van hul kuiers net meer. Ek het blou pilletjies uitgesit, maar o wee. Ek vermoed muis se kind het al sy maatjies genooi om te kom saam partytjie hou. Die blou partytjiekos wat hul einde moes beteken, het verdwyn en die bewysstukke het vermeerder.
Moedeloos gaan ek toe winkel toe en koop “daardie muisgif wat soos koring lyk”, soos ’n vriendin aanbeveel het.
Ek strooi trots die nuwe “kossies” op die vensterbank en sit proppies vol water neer sodat hulle glo lekkerder kan eet en die goed beter afsluk. Dit was net voor ons kamp op Doornkloof.
Ná die kamp vind ek tot my verstomming dat die pienk kossies verorber is en nuwe bewysstukke die hele kombuis vol lê. Daar was beslis ’n partytjie toe die kat weg was.
“Onder die broodplank . . . hulle maak ’n geraas. Onder die broodplank . . . hulle vreet aan die kaas. Onder die broodplank, broodplank . . .”
Goed, besluit ek. Tyd vir drastiese stappe. Ek skraap my moed bymekaar en gaan bedel ’n muisvalletjie by Ma. Sy wys my hoe om die kaas op die muisval te sit.
Aande van vrees volg – raai wie sal die gewonde, halfdooie muis uit die huis moet neem?
Maar nee. Blykbaar is die muisval toe al die tyd ’n afskrikmiddel. ’n Vriend sê dit is omdat muise nie van kaas hou nie. Jy moet grondboontjiebotter gebruik.
Steeds niks.
Geen bewysstukke – net ’n muisval met stokou kaas en ’n smeersel grondboontjiebotter.
En hopelik ’n muisfamilie wat in die veld voortleef. . . Of nie.