Daar is kommer oor vullisverwydering wat die afgelope maand weer dramaties verswak het.
In Dan Pienaar is vullis drie weke laas verwyder. Inwoners wonder waar is die nasionale ingrypingsplan dan nou? Waarom gaan dit nie beter in die metro nie?
Met die vooruitsig van reën die volgende paar dae en die gevaar dat hope vullis weer in die stormwaterdreinering kan beland, is daar nie juis lig op die horison nie.
Bloemnuus het aan die kommunikasie-afdeling en die waarnemende hoof van vullisverwydering van die Mangaung-metro vrae gerig oor die stortingsterreine en vullisverwydering wat nie na behore gedoen word nie.
Daarvolgens werk die metro nou daaraan om sy vloot vullisverwyderingvragmotors te herstel sodat vullisverwydering volgens skedule kan voortgaan.
Qondile Khedama, woordvoerder van die metro, sê daar word nou prioriteit gegee aan onderhoud van die vloot en daar word ook gewerk aan ’n skoftestelsel wat oorweeg word om bestaande hulpbronne optimaal te gebruik.
Volgens hom is daar drie kompakteervoertuie vir die noorde van Bloemfontein, vier vir die suide, een vir Thaba ’Nchu, twee vir Bothabelo, een vir Vanstadensrus, Wepener en Dewetsdorp en een kanteltrok vir Soutpan.
Besoekers aan die noordelike en suidelike stortingsterreine sou gesien het dat daar nou begin is om werk te maak van die massas vullis wat buite die terreine begin ophoop het.
Khedama sê ’n private kontrakteur is aangestel om die pad verby die Suidpark-begraafplaas na die suidelike stortingsterrein skoon te maak.
“Daarmee word ander hulpbronne na die noordelike stortingsterrein gestuur. Eenhede binne die munisipaliteit help mekaar om die vullis wat onwettig gestort is, op te ruim.”
Hy sê wetstoepassingsbeamptes is ook teenwoordig om verdere onwettige storting te voorkom.
“Mense wat onwettig in die stortingsterreine woon, sal ook verwyder word.”
Volgens Khedama is daar begroot vir die rehabilitasie en sluiting van die noordelike stortingsterrein in die 2022-’23 geldjaar.
“Daar moet eers ’n rehabilitasie- en sluitingverslag opgestel word voordat bepaal kan word hoe die terrein gesluit kan word. Tydens die proses moet ook gekyk word na ’n alternatief vir die ontwikkeling van ’n nuwe stortingsterrein.”