Munt geslaan uit klappertand

Dit was een van die on­plesierigste wintersdae in Julie, maar talle ondersteuners het die daad by die woord gevoeg en Saterdag (29/07) aan die swemuitdaging The Purpose Splash in Grey-kollege se swembad deelgeneem.


Dit was een van die on­plesierigste wintersdae in Julie, maar talle ondersteuners het die daad by die woord gevoeg en Saterdag (29/07) aan die swemuitdaging The Purpose Splash in Grey-kollege se swembad deelgeneem.

Dit is aangebied deur Bloemfontein Hospice, CHOC-huise en Aurora, ter wille van bewusmaking en geldinsameling vir dié drie liefdadigheids­organisasies en die dienste wat hulle bied – onderskeidelik steun aan pasiënte wat palliatiewe sorg benodig, kinders met kanker en mense wat met verslawing worstel, asook familie­lede van dié mense en pasiënte.

Dit was die eerste keer dat hulle saamgewerk het om só ’n geleentheid aan te bied.

“Ons doen dit volgende jaar weer,” het Hanneke Lubbe van Bloemfontein Hospice ná die tyd gesê.

Lede van die Christian Motorcyclists Association (CMA) het net ná 12:00 eerste ingespring en die weg gebaan vir ander deelnemers om deur die swembad te stap, swem en spat – enigiets om so vinnig moontlik deur die water te kom.

Al was hy bloedrooi van koue, het James Cunningham ná die tyd selfs gou saam met nog ’n deelnemer, Marina Bester, reggestaan vir ’n vinnige foto.

’n Jong man wat blitsig geswem het, het uitgeklim en al klappertand om die swembad gehardloop om dit nog ’n keer te doen.

Zak Steyn het musiek gemaak en Eslo Coetzee het deelnemers aangemoedig tydens hul dapper swempoging.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.