Besoekers met gesiggestremdhede kry in die Nasionale Museum in Bloemfontein ’n besonderse ervaring wanneer hulle talle sintuie kan gebruik om die interessante uitstallings hier te ervaar.
Die museum is al die afgelope 16 jaar aan die werk om dele van die museum al meer toeganklik te maak vir blindes.
Dit sluit in voorwerpe waaraan mense kan voel, klanke, mondelinge vertellings en klanktoere deur die museum.
Dr. Nico Avenant, kurator en senior spesialiswetenskaplike in die afdeling in soogdierkunde aan die Nasionale Museum, sê die museum is nie net ingerig vir mense met gesiggestremdhede nie, maar ook vir mense wat doof of hardhorend is, asook mense wat fisiek gestremd is.
Leerlinge en inwoners van verskillende instellings is deurlopend betrokke om die spesiale uitstallings en toerusting te besigtig. Dit sluit kinders van die Tswellang Spesiale Skool, die Pholoho Spesiale Skool, inwoners en dagwerkers van die Vrystaat-nasorgsentrum asook die Vereniging vir mense met Gestremdhede en die Vereniging vir Blindes, Vrystaat in.
Met terugvoering kan die uitstallings voortdurend verbeter en aangevul word.
Die uitstallings sluit in groot modelle van sekere ongewerwelde diere, ’n klein kameelperd en olifant asook olifantpoot waaraan blinde besoekers kan vat en talle inligtingsbordjies in Braille.
Die Oliewenhuis-kunsmuseum, ’n verlengstuk van die Nasionale Museum, het nou ’n tydelike uitstalling uit dié museum se permanente versameling van die kunstenaar Willem Boshoff se Blinde Alfabet “A” wat in die kunsmuseum vertoon word.
Lees volgende week in BloemNuus meer oor dié besonderse versameling.