Museums hou Vrouedagmark

Vrouedag word Dinsdag (09/08) by die Oorlogsmuseum en Nasionale Vrouemonument gevier met ’n Vrouedagmark.


Vrouedag word Dinsdag (09/08) by die Oorlogsmuseum en Nasionale Vrouemonument gevier met ’n Vrouedagmark.

Die Hospice-winkel bied ’n mark aan waar ’n verskeidenheid handgemaakte produkte, eetgoed en lekkernye. Daar is ook handwerk-aktiwiteite vir kinders soos tolletjie-brei en hulle kan leer om viltboekmerke te maak.

Die museum bied lesings aan en daar is ook ’n uitstalling van spin- en weefskole wat deur Emily Hobhouse gestig is. Verskeie handwerkvaardighede soos spin, weef, brei, die maak van kant en viltwerk sal gedemonstreer word.

Toegang tot die mark van 08:00 tot 13:00 is gratis.

Emily Hobouse en die ontstaan van spin- en weefskole

Na afloop van die Anglo-Boereoorlog (1899–1902) het Emily Hobhouse, ’n Britse humanis en filantroop, probeer om die na-oorlogse armoede en ellende in die Oranjerivierkolonie en Transvaalkolonie te help verlig deur die vestiging van verskeie spin- en weefskole.

Emily is deur die Boer Home Industries and Aid Society in Brittanje afgevaardig om hierdie taak te verrig. Ook is sewentien kratte spin- en weeftoerusting, asook ander voorrade vir hierdie skole, na Suid-Afrika versend. Onder Emily se toesig het die eerste spin- en weefskool met ses leerlinge, op Maandag, 13 Maart 1905, te Philippolis, begin.

Wol was as natuurlike hulpbron in Suid-Afrika geredelik beskikbaar en kon relatief maklik verwerk word om nuttige geweefde voorwerpe soos komberse, matte en muurbehangsels te maak. Daar is met verskillende natuurlike grondstowwe soos besembos vir roospienk, okkerneutdoppe vir bruin en perskeblare vir liggeel geëksperiminteer. Emily se kleurvolle ontwerpe met gesegdes soos “Wag ? bietjie”, “Geduld en moed”, “Vandag is ’n dag” en “Môre is ook ’n dag” was baie gewild.

In Oktober 1908 het Emily teruggekeer na Brittanje nadat sy verskeie spin- en weefskole in die Vrystaat en Transvaal gevestig het. Die finansiering en werksaamhede van hierdie spin- en weefskole is later deur die regering oorgeneem en onder die beheer van Tuisnywerheidsrade geplaas. In teenstelling met die Transvaalse skole wat gedurende die Eerste Wêreldoorlog gesluit het, het die meeste van die Vrystaatse skole onder die bestuur van die OVS Huisvlytraad (1908-1939) bly voortbestaan. Die administrasie van die raad is hoofsaaklik deur Maynie Fleck, as sekretaresse en eertydse vriendin van Emily Hobhouse, bestuur.

Vanaf 1939 het slegs die depot in Bloemfontein en die skool in Trompsburg onder die bestuur van die geherorganiseerde SA Huisvlytraad bly voortbestaan. Ná die ontbinding van die SA Huisvlytraad in Desember 1946 het die Trompsburgskool vir ’n wyle onafhanklik gefunksioneer, maar het later ook sy deure gesluit.

Hoewel die spin- en weefskole slegs vir 38 jaar gefunksioneer het, het Emily Hobhouse ’n basiese grondslag vir weefkuns in Suid-Afrika gelê waarop voortgebou kon word.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.