Onkruid en vullis voor die museum, wat Maandag (04/07) afgeneem is. ’n Tuinier het wel in een deel van die tuin gewerk.

Lientjie Mentz

Inwoners van Bloemfontein is met reg bekommerd oor die swak toestand van provinsiale museums in die stad.

Dit kom nadat foto’s van die verval van die Ou Presidensie-museum en die Militêre Museum op die sosiale media die ronde gedoen het. Bekommerde lesers het dié foto’s aan Bloemnuus gestuur.

Maandag (04/07) vroeg het verskillende belangegroepe ’n besoek aan die Ou Presidensie-museum gebring om die toestand van die museum en sy inhoud te oorweeg.

Loudine Philip van Erfenis Vrystaat sê hulle waak oor die inhoud van dié museum, en sy het kom kyk wat die toestand van die meubels is. Saam met haar was argitek Marius Jansen van die departement van openbare werke. Jansen sê die instandhouding van die museum se struktuur berus nou by die departement van sport, kuns, kultuur en ontspanning, en hy het al versoek dat iets aan waterlekke gedoen word.

Ingeligtes sê dit is ’n probleem wat al oor baie jare pla. Dit is egter duidelik dat daar nou ’n ernstige tekort aan onderhoudswerk, kundigheid en vernuwing by dié geskiedkundige museum is. ’n Deur na ’n deurmekaar pakkamer het met Bloemnuus se besoek oop gestaan, en dit het ’n baie swak indruk geskep. Verder het kamerpotte oral op vloere rondgestaan

Lede van die Ou Presidensie- Historiese Vereniging was ook daar om te kyk wat aangaan. Die lede is veral bekommerd omdat daar aan plafonne en mure tekens van reënskade is. Daar is ook ’n groot plas water buite die suidelike kant van die gebou. Die deure in die glasafskortings wat mense buite die vertrekke in die museum moet hou, staan meestal oop en skep die gevaar van diefstal.

Onkruid en vullis voor die museum, wat Maandag (04

Onkruid en vullis voor die museum, wat Maandag (04/07) afgeneem is. ’n Tuinier het wel in een deel van die tuin gewerk.

Die museum was met sy opening in 1985 bekend vir sy besonderse versameling persiese tapyte, waarvan talle nou vuil en onversorg is. Een stukkende persiese tapyt wat in die museum afgeneem is, en waarvan die foto ook die ronde gedoen het, was met Bloemnuus se besoek nie daar nie. Bloemfonteinse argitek Anton Roodt het in 2012 ’n nuwe dakstruktuur by Ou Presidensie laat oprig en instandhoudingswerk is gedoen. Dit lyk egter asof geen onderhoudswerk die afgelope paar jaar gedoen is nie, en dit is hoogs waarskynlik die verstopping van geute wat nou tot die erge waterlekplekke bydra.

Die Ou Presidensie is nie die enigste provinsiale museum wat dringend opknappingswerk nodig het nie. Die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsing­sentrum (Naln), het ook duidelike waterskade. Dit is kommerwekkend, omdat dié sentrum talle waardevolle boeke, manuskripte en letter­kundige werke bewaar en vir navorsing beskikbaar stel.

Die sluiting van dié sentrum sedert Mei, omdat die elektrisiteitsrekening nie betaal is nie, bied groot uitdagings aan mense wat navorsing daar moet doen.

Ook by die Militêre Museum in OR Tambostraat word ernstige uitdagings ervaar nadat daar einde verlede jaar en vroeër vanjaar talle inbrake was en van die militêre aandenkings uit die versameling gesteel is.

Bloemnuus het navrae aan die betrokke departement gerig oor klagtes oor instandhouding, maar het teen druktyd nog geen terugvoering ontvang nie.

Mense met navrae aan Naln kan dit rig deur 072-260-7117 te skakel.

You need to be Logged In to leave a comment.