Klassieke musiek is soos die res van die kunste weer klinkend ná twee jaar van geslote teaters, en dit beteken die datums vir die derde aanbieding van Vrystaat Klank en Klassik (VKK) kan nou bekend gemaak word.

Dié fees word van 31 Oktober tot 6 November in die Odeion-teater op die kampus van die Uni­versiteit van die Vrystaat (UV) in Bloemfontein gehou, en sal teen daardie tyd na verwagting sonder ’n beperking op die aantal konsertgangers kan plaasvind.

Produksies kan nou vir die fees van klassieke musiek ingeskryf word en kan enigiets van kamermusiek tot ’n kooruitvoering of ’n orkeskonsert wees, mits die orkes nie te groot is nie.

Die feesformaat was verlede jaar ’n groot sukses en sal vanjaar min of meer so behou word. Konserte deur die room van die Odeion Skool vir Musiek (OSM) se studente word op die Maandag en Dinsdag aangebied en kan gratis bygewoon word. Van die Woensdag tot die Saterdag tree professionele kunstenaars op, en die Sondag word toegeken aan ’n gewyde produksie vir soliste, koor en orkes.

Niks is egter in yster gegiet nie en indien opwindende inskrywings ontvang word, sal die fees altyd ’n tydgleuf daarvoor vind.

Soos voorheen sal die uitvoerings volgens tegniese voorskrifte opgeneem word sodat dit op kykNET uitgesaai kan word.

Datums vir die uitsending van verlede jaar se feeskonserte moet nog bepaal word. Volgens Michael Garbett, artistieke direkteur van die Vrystaat Kunstefees waaronder die VKK val, wag ’n paar verrassings wat uitsendings betref.

Besoek vrystaatkunstefees.co.za om in te skryf, of skakel 082-609-7864. Die sluitingsdatum is 6 Mei.

You need to be Logged In to leave a comment.