Die nuwe kunsgalery Ark.Contemporary op Rosendal.

Stella Olivier

Die kunsdorpie Rosendal in die Oos-Vrystaat gaan die naweek van 1 tot 3 April behoorlik lewe wanneer die Vrystaatse Kunskollektief, wat in Bloemfontein gesetel is, daar ’n uitstalling aanbied.

Bloemfonteinse sangers Belinda van Zee en Amy Aldeia gaan die naweek se verrigtinge op Vrydag 1 April met ’n musiekvertoning om 20:00 in Yolla’s in die dorp begin.

Die uitstalling Equilibrium van die Vrystaatse Kunskollektief open Saterdag om 17:00 in Ark Contemporary.

Dié kunsgalery is verlede jaar in Desember geopen deur professionele kunstenaars wat almal in Rosendal woon – Michele Nigrini, Grietjie Lee, Magda van der Vloed, asook Stella en Louis Olivier.

Equilibrium is ook ’n versameling van 38 kunstenaars wie se werk onder die vaandel van die Vrystaatse Kunskollektief uitgestal word.

Van die werk wat as deel van Equilibrium uitgestal gaan word, sluit in werk van Adelheid von Maltitz, wenner van die Absa L’Atelier-prys vir 2021; Pauline Gutter; Neo Theku, die 2019-wenner van die Phatshoane Henney New Breed-kunskompetisie; Baitumetse Moloabe wat dié kompetisie in 2021 gewen het; Magda en Miró van der Vloed, wat vir die uitstalling ’n keramiek-installasiekuns maak; Elrie Joubert; Wessel van Huyssteen en Bongani Tshabalala, wat in 2022 die Sony Wêreldfotografie-eerbewys se streekskompetisie gewen het.

Die joernalis, redakteur en plateversamelaar Charles Leonard gaan op die geleentheid musiek maak. DJ Charles Leonard is bekend vir sy eklektiese musiekversameling.

Sondag van 11:00 af sal Karen Brusch, voorsitter van die kollektief en kurator van die uitstalling, asook van die kunstenaars besoekers op ’n begeleide toer neem om hul meer van die kunswerke te vertel.

Besoek die webwerf rosendaltown.co.za/stay-rosendal vir meer inligting oor akkommodasie in Rosendal.

You need to be Logged In to leave a comment.