By die Hoërskool Sentraal se koor is, van links, Cézanne Yzelle, Johan van Deventer, Arend Brink, Arend Brink jr., Debbie Brink, Wikus van Zyl en Petrus van Zyl. Foto: Verskaf


Arco Musica het op Dinsdag 3 Mei by die Hoërskool Sentraal gaan kuier om onderwysers en leerlinge ’n voorsmakie van Celebration Show te gee.

Dié vertoning, wat op 20 en 21 Mei in die Doxa Deo-ouditorium in Fichardtpark te sien is, gaan ’n terugblik gee op dié musiekgroep se uitvoerings oor die afgelope 30 jaar.

Debbie en Arend Brink, oudleerlinge van die Hoërskool Sentraal, het dit goedgedink om dié skool deel van hul vertoning te maak. Die skoolkoor sal dus ook optree.

“Ons is opgewonde omdat dit die eerste groot vertoning is wat ons in twee jaar kan hou,” sê Arend.

Hy reken dit is wonderlik dat sangers van formaat, soos Riaan Hunter, Corneil Muller, Arend Brink jr. en Cézanne Yzelle, sal optree. Laasgenoemde sing al tien jaar saam met Arco Musica.

“My eerste vertoning saam met hulle was vir die groep se 20ste verjaardag – en nou is dit 30 jaar,” sê Cézanne.

“Arco het nog altyd ander musikante by hul vertonings betrek.”

Riaan kom spesiaal uit die Kaap vir dié vertoning.

Die vertoning bestaan uit ’n groot verskeidenheid musiek – van instrumentele nommers en liedjies uit rolprente, tot bekende Afrikaanse liedjies.

  • Debbie sê ’n paar Italiaanse nommers, waarin Riaan se stem tot sy reg kan kom, kan ook verwag word. Kaartjies, waarvan die goedkoopste R140 kos, is by quicket.­co.za beskikbaar.

You need to be Logged In to leave a comment.