Die Parkweg-polisie ondersoek ’n skietvoorval nadat die lyke van ’n onderwyseres van die Laerskool Universitas (Tjokkies) en die man aan wie sy in Desember verloof geraak het, in ’n huis in Universitas in Bloemfontein gevind is.
Die lyke van Neilen van Breda (63) en Retha van der Merwe (61) is gisteraand in ’n huis in Universitas gevind.
Dit was nadat die polisie om ongeveer 21:30 ’n oproep ontvang het van skote by dié huis.
Volgens sers. Mahlomola Kareli het lede van die polisie met hul aankoms by die huis deur die venster ’n man gesien met ’n wond naby sy regteroor en ’n vuurwapen in sy regterhand.
Binne die huis het hulle Van der Merwe in die kombuis gevind met ’n skietwond in haar kop en twee skietwonde in haar lyf.
Verskeie skole in Bloemfontein het hul medelye betuig met die afsterwe van die gewilde musiekonderwyser by Tjokkies. Sy was ’n bekende sakevrou en het aan die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein gematrikuleer.
Sy het twee volwasse kinders, Jolinda Kritzinger Fourie en Emmari van der Merwe.