Bloemfonteiners kan uitsien na ’n musiekreis in American Rhapsody waarin die wêrelde van klassieke musiek en jazz hande vat om luisteraars te bekoor tydens die Rhapsody-orkes se eerste vertoning vir 2024.
Nie net gaan die orkes onder leiding van Heinrich Lategan die gehoor met opwindende musiek boei nie, dit is ’n geleentheid waarop mense met ’n passie vir musiek hul talente kombineer vir ’n aand van luistergenot.
Die pianis, en stigter en organiseerder van die Rhapsody in Bloem-konsertreeks, Petro Engelbrecht, gaan byvoorbeeld as solis optree met die uitvoering van Gershwin se opwindende en kleurryke Rhapsody in Blue.
Nog ’n hoogtepunt op die program is die oorspronklike kamermusiekweergawe van Copland se Appalachian Spring.
Met die Amerikaanse tema in gedagte, vermaak die orkes ook die gehoor met Gershwin se An American in Paris, asook Saturday Night Waltz en Hoedown van Copland se Rodeo.
Lategan sê dit gaan ’n vertoning wees wat musiekliefhebbers sal meevoer.
“Ons beloof ’n vriendelike en gerieflike atmosfeer, wat nuwe, asook gesoute, musiekliefhebbers gaan geniet.”
Deel van die opbrengs uit kaartjieverkope gaan vir Rhapsody in Bloem se musiek-beursfonds. Die kaartjie-inkomste uit die Rhapsody in Bloem-konserte word gebruik vir ’n studiebeurs aan ’n wenner wat een keer per jaar in ’n kompetisie aangewys word.
Die vertoning vind op 16 Maart om 19:00 in die Odeion-ouditorium op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat (UV) plaas.
Die kaartjies kos R100, en kinders jonger as 18 jaar en pensioentrekkers ouer as 65 jaar betaal R50 by die deur – of stuur ’n WhatsApp-boodskap na 073-651-2611.